Welkom by Literêre terme en teorieë

Die doel van hierdie publikasie is om ‘n bruikbare naslaanwerk te wees wat van die belangrikste begrippe in die literatuurwetenskap betreklik bondig verduidelik. Die kern hiervan is ‘n aantal langer artikels waarin van die belangrikste literêre terme en teorieë binne ‘n breër raamwerk verduidelik word.

Literêre terme en teorieë is hoofsaaklik gemik op die Afrikaanssprekende student, onderwyser en dosent. Vandaar die sterk Afrikaanse en Nederlandse verwysingswêreld in baie van die bydraes. Sekere gebruikers kan moontlik voel dat dit ‘n veel sterker Suid-Afrikaanse inslag moes gehad het, maar hierdie tendens was nog glad nie duidelik toe die meeste bydraes geskryf is nie. ‘n Breër Suid-Afrikaanse raamwerk sal doelbewus in die hersiening van hierdie werk nagestreef word.

Die Afrikaanse bydraes word in hierdie digitale weergawe van die werk aangevul deur die lemmas uit die 2009-uitgawe van die Lexicon van literaire termen – die bekende en gesaghebbende naslaanwerk vir studente en navorsers in Afrikaans en Nederlands saamgestel deur H. van Gorp, R. Ghesquiere en D. Delabastita. Dit bied ’n breër Europese blik op die literatuurwetenskaplike vaktaal.

Vir meer inligting omtrent die Literêre terme en teorieë-projek, kyk onder kolofon. Lees ook ons “Wenke vir die gebruiker.” Indien u op soek is na spesifieke inligting wat nie in die indeks voorkom nie, soek ook in die trefwoordelys of gebruik die soekveld. Indien u van die artikels (of lemmas) wil help verbeter of hersien, klik hier.