As 'n uitgangspunt van die Dekonstruksie in die literatuur kan die volgende uitspraak geld: "If then the page fractures itself with blank spaces and inserts, it is because God created the world not by the logos, but by a slip of the tongue" (Hartman, 1981: 10).

 

Die Dekonstruksiekritiek is al by meer as een geleentheid as 'n "technique for making trouble" beskryf. Kritici voel verontwaardig oor die invloed van dié beweging omdat dit hul "normale" en "bekende" benaderings tot die literatuur bedreig – en ontmasker. Om hierdie rede word daar bv. na die Yale-eksponente verwys as 'n "hermeneutiese mafia" (Norris, 1982: xi).

 

Bekende en bruikbare konsepte binne die Westerse lees- en dink-tradisie word bevraagteken. Konsepte soos "STRUKTUUR", "teken", "betekenis", "orde", "TEKS", "essensie", "OUTONOOM", "LITERêR", "METATAAL", e.d.m. word omgedop – sodat die teoretikus nie meer so seker is van die vanselfsprekende sg. betekenis nie.

 

Elke konsep/begrip word teen homself gedraai. Die bekendste is sekerlik Jacques Derrida (1976: 19) se bevraagtekening van die teken: "One cannot get around that response, except by challeng­ing the very form of the question and beginning to think that the sign is that ill-named thing, the only one, that escapes the in­stituting question of philosophy: 'what is ...'"

 

Daar word dikwels verkeerdelik verwys na Dekonstruksie as 'n nuwe skool of beweging. Derrida noem Hegel bv. die grootste semioloog ("the last philosopher of the book and the first thinker of writing") in die slotsin van die eerste hoofstuk van Of Grammatology (1976: 26). Reeds by Nietzsche, Freud en Heidegger kan die groeipunte van die Dekonstruksie teruggevind word.

 

Om 'n oorsig van die hele Dekonstruksiekritiek te gee, is onmoontlik, veral omdat dit nie 'n metode of "skool" is nie. Uiteenlopende denkers word onder hierdie term saamgesnoer – al wat hulle met mekaar gemeen het, is 'n skeptisisme teenoor die verburgerliking van idees, 'n kritiek op die aannames en toepassinge van die STRUKTURALISME en SEMIOTIEK.

 

'n Mens kan hoogstens volstaan met Hartman (1981: 7) se "definisie" van hierdie intellektuele aktiwiteit: "It leads to the method called by Derrida 'deconstruction', which reveals the turn being taken, not only against the will of the author, since it is prescribed in language, but also because any author who stands in that turn cannot express that experience, that impersonification, except by words that sound, willy-nilly, mystical, like a displaced or nega­tive theology."

 

Talle radikale denkers het begin insien dat die Strukturalisme nie "woord" hou nie – kortom: dat dit absurde projeksies is van die leser wat "strukture" in 'n "teks" ontdek asof dit altyd daar sou wees.

 

Roland Barthes het telkens in onderhoude sy verandering in sienswyse verduidelik en veral die verskuiwing wat plaasgevind het tussen "Introduction to the structural analysis of narratives" (1966) en S/Z (1970): "In the former text I appealed to a general struc­ture from which would then be derived analyses of contingent texts ... I postulated the profit there would be in reconstructing a sort of grammar of narrative, or a logic of narrative, (and at that period, I believed in the possibility of such a grammar – I do not wish to deny it) ... In S/Z, I reversed this perspective: there I refused the idea of a model transcendent to several texts (and thus all the more so, of a model transcendent to every text) in order to postulate ... that each text is in some sort its own model, that each text, in other words must be treated in its differ­ence, 'difference' being understood precisely in a Nietzschean or Derridean sense" (in Heath et al., 1971: 44).

 

Barthes verwerp hier die bestaan van 'n metafisiese model wat bestaansreg gee aan alle tekste. NARRATOLOGIESE studies soos Propp se Morphology of the Folktale is dus vir die latere Barthes onaanvaarbaar. Die teks is ook nie 'n entiteit beklee met "waarheid" of "betekenis" nie. Betekenis is arbitrêr. Dit hang af van die groeperinge wat dit met ander tekste sluit.

 

Die INTERTEKSTUELE relasies wat met ander tekste gesluit word, ontken die outonome bestaansreg van die teks. Benewens die ontkenning van die struktuur, die outonome status van die teks, is dit ook opvallend dat die meeste Dekonstruksiekritici krities is oor die konsep metataal.

 

Die gebruik van 'n metataal sou volgens hierdie kritici beteken dat die leser glo in 'n aparte, objektiewe diskoers, wat, bene­wens die diskoers in die teks, aanspraak maak op onveranderlikheid. Juis wanneer die leser in aanraking kom met die literêre (of dit wat hy meen literêr is), word die lesing bepaal deur die teks. Teks en leser "ent" mekaar met betekenisse, soos J. Hillis Miller (1979: 219) aantoon in sy belangwekkende artikel.

 

Dit is ook belangrik om te let op die "destruktiewe" konsepte in hierdie "tegniek". Barthes skryf in S/Z van "cutting"; Kristeva praat van 'n semioklasme. Dikwels word daar ook van erotiese metafore gebruik gemaak om die beperktheid van die taal weer te gee – Barthes bely sy ekstase ("jouissance") in The Pleasure of the Text wanneer hy oor die "scriptible" (writerly) teks skryf, terwyl Geoffrey Hartman (1981: 45, 52) hom baie speels soos volg uitlaat oor lees: "Reading should be an "errance joyeuse" rather than the capitalization of great books by interpretive safe­guards" en "we know meaning gets screwed".

 

Roland Barthes (1967: 10) maak die opmerking: "We are much more than in former times ... a civilization of the written word." Hierdie uitspraak verklaar o.m. die wyse waarop die dekonstrueerders die "werklikheid" ervaar. Derrida (1976: 158) verwys ook na die werklikheid as 'n andersoortige teks.

 

Dit is ook belangrik om daarop te let dat Dekonstruksie nie sonder die Strukturalisme kan bestaan nie. Die hele Of Grammatology, bv., is 'n gesprek met strukturalistiese denkers.

 

Die dekonstrueerders beweeg "beyond formalism" – om Hartman se term te gebruik – en benader die teks met "freeplay of language". Die leser lees nie om "insigte" te verkry of 'n "analise" van 'n teks te maak nie – lees word 'n dubbele aktiwiteit wat iets te sê het oor die teks en die beperkinge van ons begrip. Daarom verwys Paul de Man na "blindness and insight" en skryf Derrida van die aporia – oftewel "onduidelikhede" – van 'n teks.

 

Dit is "grammatologie" (die wetenskap van Skryf); en "différance" is 'n sentrale konsep. Enersyds impliseer dit "differ" in die Saussureaanse sin van die woord en andersyds word die begrip "defer" (om uit te stel) ook daarmee saamverstaan. Meer nog: die spelling van différance met 'n "a" is vir Derrida belangrik, omdat dit – 'n klank wat dieselfde is met e/a in Frans – anders word wanneer dit geskryf word. Sodoende illustreer Derrida sy keuse van "writing" bó "speech".

 

Omdat die begrip betekenis uitstel, het dit 'n oneindige supplementariteit tot gevolg. Omdat betekenis nie vasgepen kan word nie, kan die teks ook nie geïsoleer word tot 'n outonome eenheid nie. Ook benader die leser die "teks" met etlike ander tekste. Barthes benadruk in S/Z dat die "ek" reeds 'n pluraliteit van ander tekste is (1974: 10). Kristeva (1969: 146) skryf in haar Recherches pour une sémanalyse: "Iedere teks neem vorm aan as 'n mosaïek van aanhalings, iedere teks is die absorbering en transformasie van ander tekste" (eie vertaling).

"Theoretical does not, of course, mean abstract. From my point of view, it means reflexive, something which turns back on it­self: a discourse which turns back on itself is by virtue of this very fact theoretical," skryf Barthes (soos aangehaal in Robert Young, 1981: 1).

 

Vir Barthes en Derrida is die kritiese "metode" 'n selfrefleksiewe aksie. Die leser "ontleed" dus nie net die teks nie, maar bevraagteken ook sy metode en die vooropgestelde aannames. Hy word genoodsaak om terug te keer na die teken (SIGNIFIANT) in die teks. Die wat van die lees word verander na die hoe. Selfs al blyk 'n lesing 'n "mislukking" te wees – in konvensionele terme –  ontdek die leser méér oor die beperkinge van konseptualisering as 'n leser wat meen sy metode is "in order".

 

Die leser word aktiewe produseerder van die teks – in Pierre Macherey se sin van die woord – sodat daar eerder van TEKSTUALITEIT (proses) as teks gepraat word.

 

Dekonstruksie is dus noodwendig 'n autocritique, maar om dié manier van lees as "teoreties", "hermeneuties ondermynend", "onnodig ingewikkeld" af te maak, sou berus op 'n denkfout. Dekonstruksie – meer as enige benadering tot lees – beklemtoon dat elke manier van lees of verstaan 'n reeks teoretiese aan­names voorveronderstel. Selfs 'n soort "natuurlike" of "intuïtiewe" metode is op 'n groot hoeveelheid voorveronderstellinge gebaseer. Die aannames is dikwels net implisiet en moeiliker om te formuleer, of só deel van die literêre denkklimaat dat dit as vanselfsprekend en waar aanvaar word.

 

Robert Young (1981: viii) stel dit soos volg: "There is no possi­bility of a 'non-theoretical' criticism. The only choice is between a criticism that is self-reflexive, that is aware of how and why it is doing what it is doing, and a criticism that is not. No criti­cism is without an implicit – if not explicit – theoretical posi­tion. Thus the complaint most often levelled against so-called 'theoretical' criticism – that it imposes its theories onto texts rather than reading the texts themselves – is in fact most ap­plicable to so-called 'non-theoretical' criticism, whose precon­ceptions about how to read, and what to read for, are so funda­mental that they remain unvoiced and unthought, and thus ap­pear 'natural', 'intuitive', free of theory and 'abstract ideas'."

 

Vollediger en duideliker as wat Young dit stel, kan dit nie. Dekon­struksie herdefinieer én bevraagteken ons manier van dink – en veral die metafisiese skimme word afgebreek. Die belangrikste eksponente van hierdie soort kritiek of tegniek van lees is die Franse filosoof Jacques Derrida, Roland Barthes (sy S/Z is 'n soort Dekonstruksie) en die Yale-skool: Paul de Man, J. Hillis Miller, Harold Bloom en Geoffrey Hartman (hoewel lg. twee kriti­ci al ontken het dat hul dekonstrueerders is), Barbara Johnson, om enkele name te noem.

By Derrida en hiermee inbegrepe die hele Dekonstruksiekritiek, word drie soorte tydlose sentrum-benaderings bevraagteken, naamlik fonosentrisme in die linguistiek, logosentrisme in die filosofie en fallosentrisme in die psigoanalise.

 

Teenoor fonosentrisme poneer Derrida grammatologie, die sisteem waarin skrif bo spraak bevoordeel word. Die stem "het" geen betekenis nie, behalwe deur die medium van taal; en om­dat die fonemiese permutasies wat taal bepaal alleen verklaar kan word as 'n sisteem van skrif waarin letters (gramma) funksioneer, is die term grammatologie vir Derrida meer aanvaarbaar en korrek. Die illusie dat spraak voor skrif gestel moet word, is vol­gens die dekonstruksiekritici eerder 'n filosofiese as 'n linguistiese mistasting wat toegeskryf kan word aan die sogenaamde "meta­physics of presence" of logosentrisme. Logosentrisme dui op lo­gos (woord ... in die begin was die woord/die gesproke woord/ God/rede) en hiervan is fonosentrisme 'n uitvloeisel, naamlik die illusie dat elke uitspraak presence het. Vir Derrida kan die logo­sentrisme alleen opgehef word indien die binêre opposies verbreek word. Skrif moet dus bo spraak bevoordeel word; afwesigheid i.p.v. presence.

 

Psigoanalise is fallosentries ingestel en Derrida verwys na fallologosentrisme waar die fallus as die belangrikste betekenaar in die Westerse diskoers gesien word. (Feministiese dekonstrueerders verwerp die fallologosentriese illusies van die samelewing.)

 

Uit die bogaande is dit duidelik dat 'n dekonstruksie-lesing eerder 'n oop as geslote lesing is (in Umberto Eco se terme – The Role of the Reader); 'n writerly (scriptible) as readerly (lisible)-benadering (in Roland Barthes se terme – S/Z) of 'n grafi- i.p.v. epilesing (in Denis Donoghue se terme). Daar word dus groter vryheid gegee aan die leser wat 'n mede-skrywer van die teks word en die presence van die outeur word as 't ware ontken.

 

(Vgl. ook POST-STRUKTURALISME, INTERTEKSTUALITEIT, OOP EN GESLOTE TEKSTEOUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK en OUTEUR (EPIEK).)

 

Bibliografie

Althusser, L., Rancière, J. & Macherey, P. 1967. Lire le capital I. Paris: Maspero.

 

Barthes, R. 1967. Elements of Semiology. London: Cape. Barthes, R. 1974. S/Z. New York: Hill & Wang.

 

Bloom, H. Et al. 1979. Deconstruction and Criticism. London: Routledge & Kegan Paul.

 

Culler, J. 1983. On Deconstruction. London: Routledge & Ke­gan Paul.

 

De Beer, C.S. 1986. Dekonstruktiewe lesing van 'n teks. Hervormde Teologiese Studies, 42(3).

Dekonstruksie (spesiale uitgawe). Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 1(3). Julie 1985.

 

Derrida, J. 1976. Of Grammatology. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

 

Derrida, J. 1982. Margins of Philosophy. Sussex: Harvester Press.

 

Hartman, G. 1981. Saving the Text: Literature/Derrida/Philosophy. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

 

Heath, S., McCabe, C. & Prendergast, C. 1971. Signs of the Times. Cambridge: Granta.

 

Kristeva, J. 1969. Recherches pour une sémanalyse. Paris: Seuil.

 

Leitch, V.B. 1983. Deconstructive Criticism: An Advanced In­troduction. New York: Columbia University Press.

 

Miller, J. Hillis. 1979. The critic as host. In: Bloom, H. et al. Deconstruction and Criticism. London: Routledge & Kegan Paul.

 

Norris, C. 1982. Deconstruction: Theory and Practice. London: Methuen.

 

Young, R. 1981. Untying the Text: A Post-Structuralist Reader. London: Routledge & Kegan Paul.

Joan Hambidge