Kinderliteratuur is 'n aparte, selfstandige tak van die literatuur. Die ooreenkoms met volwasseneliteratuur is dat die skrywer daar­van ook uiting gee aan die drang om die menslike bestaan en elke faset van die mens se lewe te verken en deur die woord daaraan vorm en sin te gee. Die verskil is dat die skrywer dit in kinderliteratuur op kindgerigte wyse doen sodat die kind dit met sy bepaalde geestelike, verstandelike en emosionele toerusting kan begryp en dit tot hom spreek op 'n wyse wat aansluit by sy unieke eienskappe as kind.

In geen opsig is hierdie vertakking van die literatuur minderwaardig nie, want "kinderboeken zijn echte boeken, net zoals kinderen echte mensen zijn" (De Vries, 1980: 19). Dit word nie net deur kundiges beskou as 'n "supremely important branch of literature" (Fisher, 1969: 10) nie, maar as 'n literatuur met "wild blood in it" (Townsend, 1971: 79).

Stof en temas wat gehanteer word in die kinderliteratuur moet rekening hou met die kind tussen ongeveer ses- en elf-/twaalfjarige ouderdom se bevatlikheidsvermoë en belangstellings. BETROKKE LITERATUUR vir kinders is bv. moontlik, maar sonder verwikkelde onderliggende politieke spanninge; verset speel veral in moderne Europese kinderboeke dikwels 'n rol, maar dan van 'n ander aard as dié in volwassenewerke. PERSPEKTIEFVERSKEIDENHEID is moontlik, maar personale eerste- of derdepersoonperspektief slaag moeilik by die beelding van 'n jong kind, en BEWUSSYNSTROOM kan slegs in beperkte mate toegepas word. KARAKTERISERING kan op 'n verskeidenheid wyses aangebied word; soos in volwassenewerke hang dit van die geheelopset af of sg. "ronde" of "vlak" KARAKTERS gebruik word. Negatiewe karaktertrekke kan voorkom by newekarakters, of by 'n hoofkarakter indien daar ontwikkeling in 'n positiewe rigting is. Omdat die kind as belewer van sy literatuur steeds in 'n fase van ont­wikkeling verkeer en geestelik en emosioneel sterk beïnvloedbaar is, word absolute negatiewe trekke soos nihilisme, sadisme en sinisme in boekpersonasies nie wenslik geag nie.

Die taalgebruik in kinderwerke verskil wesenlik van dié van volwasseneliteratuur: dit is nie net eenvoudiger en meer konkreet nie maar steun sterker op beeldende elemente, ook – veral in boeke vir jonger kinders – op herhaling en vergelyking. Die kind se volle belewing van sy wêreld moet in taal uitgedruk word.

Om 'n historiese blik op die kinderboek te werp, is om te besef dat duisende jare se menslike ontwikkeling nòg die kind nòg sy boekbehoeftes in ag geneem het. Die ou Griekse en Romeinse beskawings het die kind as opvoedeling beskou en nie aan hom boeke verskaf nie; hy kon hoogstens na VOLKSVERHALE en FABELS luister en dit op sy beurt weer later aan 'n volgende geslag oordra. Benewens genoemde verhaalsoorte het ook heldesages (vgl. SAGE), MITES en ALLEGORIEë deur die eeue behoue gebly om­dat dit aan kinders vertel is. Selfs na die uitvinding van die boekdrukkuns is daar nie leesstof vir kinders gedruk nie en moes hulle volwassenewerke lees om literêre behoeftes te bevredig.

In die 16e eeu word die Horn Book aan kinders beskikbaar gestel, en daarmee begin 'n dualisme wat eeue sou voortduur: volwas­senes verskaf leesstof aan kinders om hulle te stig en te leer, kinders soek geestesbevrediging en ontspanning en vind dit in werke wat hulle by volwassenes oorneem, soos Fox se Book of Martyrs, wat hulle nie godsdienstig aanspreek nie maar wat tog 'n boeiende storie het. Die feit dat 'n hele Puriteinse era op dié boek volg, wys terloops op die groot invloed van boeke op die kind.

Die 17e eeu bring 'n toename in kinderboeke wat leer en vermaan, aangesien die kindertyd nog gesien word as "a state to be corrected rather than enjoyed" (Viguers, 1966: 55). Die Pilgrim's Progress van Bunyan wat in dié tyd verskyn, word deur kinders gelees ter wille van die "aksie, spanning, gevaar en oorwinnings in die lewens van die karakters" (Pienaar, 1968: 49). Teen die einde van die 17e eeu verskyn Perrault se SPROKIES sg. as volwasseneverhale; daar word pogings aangewend om dit vir kinderlesers weg te hou vanweë die onwerklikheid en wreedheid daaraan verbonde.

Aanvanklik bring die 18e eeu geen groot verandering in die heersende toestand nie: die berugte chap-books bring bv. BALLADES in verminkte vorm na die kinders, terwyl verhale soos Arabiese nagte, hoewel vir volwassenes bedoel en moeilik geskryf, tog die behoefte aan fantasie en die toweragtige by kinders bevredig. Uit volksboekies vir volwassenes word Tijl Uilspieël, Reinaert de Vos, Münchhausen en Don Quijote bekend, en die groot opvoeder, Rousseau, prys in sy Emile die werk Robinson Crusoe aan as die enigste vormende leesstof vir kinders. Origens is Rous­seau daarvan oortuig dat die kind slegs didaktiese leesstof ter hand mag neem, maar deur John Newbery se invloed verskyn die eerste werklike kinderboeke tog vanaf 1744. Veral die verhale van Mother Goose gryp die verbeelding aan.

Kennis i.v.m. die kind neem in die 19e eeu sodanig toe dat kinderverhale en ook kinderpoësie op groter skaal geproduseer word. Grimm se versamelde sprokies en Andersen se kunssprokies en fantasieverhale verskyn en word deur kinders in alle lande aangegryp. Lear se Book of Nonsense wat in 1846 verskyn, dien die steeds heersende geloof dat 'n kinderboek "iets moet leer" 'n knou toe, al bly die dualisme in 'n groot mate nog voortbestaan dat kinders vreugde uit leesstof wil put terwyl volwassenes glo dit moet opvoedingswaarde hê. Later in die eeu gee Stevenson se Treasure Island aan alle avontuurverhale beslag, Mark Twain bring die basis vir die realistiese kinderverhaal met The Adven­tures of Tom Sawyer, en die FANTASIE kry deur Lewis Carrol se Alice in Wonderland status as verhaalsoort.

Eers die 20e eeu bring 'n goue era vir die kinderboek, veral in Engeland. Oral in beskaafde lande is daar 'n groot toename in die aantal kinderboeke wat die lig sien, maar wat kwaliteit betref, kom daar mettertyd 'n groot insinking wat tot lank ná die Tweede Wêreldoorlog voortduur. Vanaf die vyftigerjare word die kinder­boek geleidelik hoër aangeslaan as selfstandige tak van die lite­ratuur; jeugboekpryse wat in Europese lande, Engeland en Amerika ingestel word, sowel as hoër eise wat deur keurders en biblioteke gestel word, verhoog die kwaliteit van die boeke wat verskyn, hoewel daar oral nog steeds swak werke gepubliseer word. Laasgenoemde kan slegs as kinderlektuur bestempel word en het geen literêre verdienstes nie.

In Suid-Afrika verskyn die Eerste Afrikaanse printjis boeki ver soet kinders in 1879, waarin eenvoudige kinderverse voorkom. In die blad, Ons klyntji, wat sedert 1895 verskyn, publiseer G.R. von Wielligh volksverhale van die Boesmans en Hottentotte wat sekerlik ook deur kinders gelees is. Werklike kinderverhale word egter eers in die 20e eeu spesifiek vir kinders geskryf, aanvank­lik deur skrywers wat ook volwassenewerke skryf, nl. Leipoldt, Langenhoven en M.E.R. Die eerste twee hou hulle met fantasievlugte besig; die derde skryf realisties en het die meeste sukses, hoewel sy ook nog nie werklik vanuit kinderbelewing beeld en vertel nie. Sowel Leipoldt as M.E.R. skryf ook kinderverse; weer is dit M.E.R. se werk wat die geslaagdste is en wie se bundeltjie Karlien en Kandas vandag nog hoog aangeslaan word. In 1926 word E.B. Grosskopf die eerste skrywer wat bekendheid verwerf hoofsaaklik vir sy seunsboek Patrys hulle, 'n werk met 'n realisties-episodiese inslag. In die dertigerjare word Helena Lochner bekend vir haar fantasieverhale wat nie literêr hoogstaande is nie maar in 'n wesenlike behoefte voorsien.

Veral in die  jare direk na die Tweede Wêreldoorlog word steeds meer prosa vir kinders gepubliseer, maar die gehalte is swak. Boeke volg 'n deurmekaar-patroon, wat die ontwikkeling van vorige eeue in ander lande resoneer: moraliserende stories ontstaan naas avontuurverhale; 'n geromantiseerde realisme rondom karakters wat in weeshuise en elders baie swaarkry, wys terug op boeke wat in die 19e eeu in Engeland en Nederland gepubliseer is. Koshuisverhale wat ná die Tweede Wêreldoorlog ongewild geraak het in die buiteland, bly in Suid-Afrika nog welig voorttier tot in die vyftigerdekade.

Vanaf 1955 word 'n nuwe era van gehalte-kinderliteratuur ingelui deur die verskyning van die werke van Alba Bouwer. Gestimuleer deur vernuwing in die volwasseneprosa sedert die sestigerjare, toon die kinderprosa ook 'n soberder taalgebruik, waaragtiger realisme, beelding van ongewone situasies en dikwels met die fokus op die enkeling. Daar word gestrewe na kindgerigte beelding en perspektief. Die beste kinderboekskryfsters soos Hester Heese, Freda Linde, Rona Rupert en Elsabe Steenberg plaas sowel blanke as bruin en swart kinderkarakters in die middelpunt. Naas realisme word ook die fantasie geëksploiteer deur Alba Bouwer, Freda Linde en Elsabe Steenberg, hoewel nog nie op dieselfde gedurfde wyse as wat Paul Biegel die fantasie in Nederlandse kinder­boeke aanwend nie.

Kinderverse het nie na die klein begin tydens die Eerste Taalbeweging vinniger ontwikkel wat kwantiteit óf kwaliteit betref nie. M.E.R. se bundeltjie uit die dertigerjare bly lank die enigste egte bundeltjie kinderpoësie, hoewel kleuterrympies, volks- en piekniekliedjies algemeen bekend bly in mondelinge vorm en Tienie Holloway verdienstelike verse skryf. Eers vanaf die sewentigerjare kom daar 'n nuwe belangstelling in die skryf van kinderverse; naas bundels deur skryfsters van goeie kinderboeke (Alba Bouwer, Freda Linde en Hester Heese) verskyn ook kinderpoësie van mense wat hulle uitsluitlik of in 'n groot mate op dié genre toelê, soos E. du Plessis en R.K. Belcher. Die dikwels absurde verse van Philip de Vos bring 'n verrassende nuwe geluid.

Hoewel dit nie onmoontlik is om die drama as genre by kinderliteratuur aan te tref nie, word dit oor die algemeen min beoefen in enige taal. Slegs klein toneelstukkies word ook in Afrikaans geskryf.

Sowel by kinderprosa as -poësie word veral twee soorte onderskei, nl. realisme (sy dit dan ook nostalgiese of geromantiseerde realisme) en fantasie. Laasgenoemde dui op die herskepping van innerlike belewenisse in 'n nuwe, samehangende patroon waarin karakters, RUIMTE en selfs TYD onafhanklik kan wees van die werklikheid. So 'n nie-bestaande wêreld wat opgeroep word, moet inherente orde en konsekwensie hê en het sy eie grense waaraan hy getrou moet bly. Deur fantasie word nuwe en dieper dimensies van die kenbare werklikheid geopenbaar, daarom durf dit nooit niksseggend en vlak wees nie.

In die verhaal of vers kan fantasie selfstandig gebruik word, of op 'n verskeidenheid wyses gemeng word met realisme. Die twee wêrelde moet oortuigend geskep word en tóg subtiele verbande met mekaar hê.

Fabels en volksverhale, waarin dikwels vermenslikte diere optree, geld ook as 'n vorm van fantasie – maar dis veral die sprokie as spesifieke kindgerigte fantasiesoort wat aandag verdien in die kinderliteratuur. In Europa is sprokies sedert die 18e eeu neergeskryf nadat hulle eeue reeds in die volksmond geleef het; in Afrika geskied optekening eers vanaf die sestigerjare van hierdie eeu. Die sprokie werk met 'n begrensde aantal fantasiefigure en -voorwerpe, omdat dit argetipes verteenwoordig wat in die kind se onderbewuste lewe. Omdat die kind die gegewens onderbewustelik verwerk en omdat die sprokie wesenlik toekomsgerig is en hoop gee dat probleme uiteindelik triomferend opgelos sal word, word al meer algemeen besef "dat het een misdaad is, een kind te beroven van sprookjes," aldus Moderne encyclopedie der wereldliteratuur, deel 4.

Die fantasie speel die grootste rol in die boeke vir jonger kinders van ongeveer ses tot agt/nege jaar. Literatuur vir ouer kinders skakel sterker met die konkrete werklikheid, die werke is omvangryker, en verwikkelder temas en motiewe word gehanteer, hoewel steeds op verhelderende wyse.

Ook in Suid-Afrika stel keurders en biblioteke die laaste jare hoër eise wat die gehalte van kinderwerke betref en word toekennings gemaak wat kwaliteit op hierdie gebied aanmoedig. Daar moet egter gewaak word teen die opvatting dat goeie kinderliteratuur bestaan uit woordkuns wat die jong leser nie vanself kan waardeer nie maar wat volwasse kundiges volgens húlle evaluering voorop stel. Kinderliteratuur word in eerste instansie vir die kind geskep.

(Vgl. JEUGLITERATUUR.)

 

Bibliografie

De Vries, A. 1980. Wat zijn kinderliteratuur nu eigenlijk? Project jeugdliteratuur, 12.

Dorfman, A. 1980. Het kind as onderontwikkelde gebied. Brugge: Orion.

Fisher, M. 1969. Intent upon Reading. Leicester: Brockhampton.

Hildick, W. 1970. Children and Fiction. London: Evans.

Moerkerken Van Der Meulen, A. 1982. De wereld van het kinderboek. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Pienaar, L. 1968. Die kind en sy literatuur. Kaapstad: HAUM.

Shavit, Z. 1986. Poetics of Children's Literature. Georgia: Univer­sity of Georgia Press.

Townsend, J.R. 1971. A Sense of Story. London: Longman.

Viguers, R.H. 1966. Margin for Surprise. London: Constable Young.

 
Elsabe Steenberg (redaksionele toevoeging oor Elsabe Steenberg)