Soos uit die naam afgelei kan word, dui die woord tragikomedie 'n tipe DRAMA aan waarin elemente uit die TRAGEDIE en die KOMEDIE vermeng word. Aangesien daar geen ooreenstemming is oor watter elemente hier ter sake is nie, word die term tragikomedie vir 'n groot aantal dramas van uiteenlopende aard gebruik.

In die Griekse en Romeinse drama is tragedie en komedie oor die algemeen streng onderskei, maar tog vind ons sekere dramas van Euripides wat nie mooi in die tragiese patroon inpas nie en deur H.D.F. Kitto (1950) as tragikomedies bestempel word, bv. die Alkestis wat 'n komiese toneel bevat, asook Ion, Helena en Iphigeneia in Taurië wat 'n gelukkige afloop het. Aristoteles het 'n ongelukkige einde vir die tragedie verkies, maar tog melding gemaak van 'n tipe populêre drama waarin die booswigte gestraf maar die goeie karakters beloon word (Ars Poetica: XIII). Ook Horatius gee toe dat die komedie soms meer verhewe kan wees terwyl die tragedie by tye van die mees alledaagse taal gebruik kan maak (Ars Poetica: 93—98). Sover bekend het Plautus die term eerste gebruik toe hy sy drama Amphitryon in die proloog 'n tragicocomoedia genoem het omdat karakters van hoë en lae stand daarin opgetree het.

Sedert die RENAISSANCE is die tragikomedie algemener gebruik. Die hernude kennismaking met die klassieke drama het die teoretici daartoe aangespoor om duideliker tussen tragedie en komedie te onderskei. 'n Tragedie was 'n drama waarin persone van hoë stand opgetree het; dit het deurgaans 'n verhewe, waardige styl gehandhaaf, belangrike onderwerpe soos staatsake, oorlog, moord en doodslag behandel en 'n ongelukkige afloop gehad. In 'n komedie, aan die ander kant, het persone van laer stand opgetree; dit het van die alledaagse omgangstaal gebruik gemaak, veral oor liefdesprobleme en kullery gehandel en gelukkig geëindig. Die verbinding van die vryer MIDDELEEUSE drama waarin komiese naas ernstige tonele voorgekom het met die strenger klassieke drama het egter gelei tot allerlei gemengde dramas wat die kritici nie kon ignoreer nie, hoewel hulle die verskynsel dikwels afgekeur het. Dramas waarin persone van hoë en lae stand opgetree het, waar die verhewe met die gemeensamer styl afgewissel is en komiese naas ernstige tonele voorgekom het en wat gelukkig geëindig het, is dus tragikomedies genoem. Die vermenging van sg. tragiese en komiese elemente het natuurlik baie gewissel, maar veral die gelukkige afloop was belangrik. Hierdie dramas het gewoonlik 'n romantiese liefdesverhaal, met baie patetiese tonele, behandel; in die spannende intrige het daar baie onverwagte hindernisse voorgekom, maar die ontknoping het altyd tot 'n gelukkige einde gelei.

Die tragikomedie van die Renaissance het in Italië begin waar die dramas en teorieë van Cinthio 'n belangrike rol gespeel het, hoewel hy self hulle nie as tragikomedies bestempel het nie. Guarini het 'n nuwe rigting ingeslaan met sy herderspel II pastor fido, wat groot invloed gehad het en ook 'n tragikomedie genoem is. In Italië is die verbinding van tragiese en komiese tonele egter nie goedgekeur nie. In Spanje, waar die klassieke reëls nie so ernstig opgeneem is nie, het die meeste dramas tragiese en komiese tonele bevat, en hierdie gebruik is deur Lope de Vega verdedig. Ook in Frankryk het die tragikomedie in die 16e en eerste helfte van die 17e eeu gebloei, met dramaturge soos Gamier, Rotrou en Hardy. Ná die polemiek oor Corneille se drama Le Cid, wat oorspronklik vanweë sy gelukkige einde 'n tragikomedie genoem is, is die klassieke "reëls" al hoe meer aanvaar en het die Franse drama 'n reëlmatiger vorm aangeneem. In Engeland is die term tragikomedie in die navolging van Guarini deur Fletcher ingevoer, en saam met Beaumont het hy verskeie tragikomedies geskryf. Sommige van Shakespeare se komedies toon ook 'n vermenging van erns en luim, maar hulle is eers later as tragikomedies bestempel.

In die 18e eeu het die tragikomedie in sy ou vorm sy gewildheid verloor en plek gemaak vir sentimentele komedies wat ook soms tragikomedies genoem is. Hulle bevat egter so min komiese elemente dat hulle moeilik op die benaming aanspraak kan maak. Met die opkoms van die ROMANTIEK begin teoretici egter 'n nuwe soort tragikomedie bepleit waarin tragiese en komiese elemente baie sterker geïntegreer sou wees. Guthke (1966) het op oortuigende wyse aangetoon dat hierdie "moderne tragikomedie" ingrypend verskil van die dramas wat voor hierdie tyd tragikomedies genoem is. In die ouer vorm word die komiese en tragiese elemente bloot naas mekaar gestel, bv. deur die afwisseling van tragiese en komiese tonele; soms was dit slegs die gelukkige afloop wat die deurslag gegee het. In die nuwe vorm is tragiese en komiese elemente so onlosmaaklik verbind dat dieselfde toneel die toeskouer laat huil en lag. Tragiek en komiek hef mekaar nie op nie, maar die een versterk die effek van die ander. Die dramaturg het in wese 'n pessimistiese siening van die mens se lot, maar sy pessimisme word deur die lag getemper; soms is dit vol hoop, maar in ander gevalle is dit 'n grimmige lag waarin daar verligting van bitterheid gesoek word.

Guthke het 'n paar soorte intriges bespreek waardeur hierdie siening oorgedra kan word. 'n Tragiese figuur kan met 'n komiese wêreld gekonfronteer word, of 'n komiese persoon kan in 'n tragiese situasie geplaas word. In ander gevalle kan 'n tragiese en komiese intrige parallel verloop, of 'n komiese figuur kan ander mense in die ongeluk stort. Die kontras tussen skyn en werklikheid, wanneer die hoofkarakter in 'n wêreld van illusie leef, of die teenstelling tussen 'n karakter se ideale en sy werklike vermoëns, is dikwels tegelyk tragies en komies. Wanneer 'n deugdelike eienskap by 'n persoon te ver gevoer word, kan dit ook 'n tragikomiese effek hê.

Sommige van Shakespeare se sombere komedies kan as voorlopers van hierdie soort tragikomedie gesien word; daar is ook werke van Molière, soos Le misanthrope, wat so vertolk kan word, hoewel hy hulle self as suiwer komedies beskou het. Sedert die Romantiek is daar gereeld dramas geskryf wat as moderne tragikomedies beskryf kan word. Rostand se drama Cyrano de Bergerac is 'n mooi voorbeeld. Sekere dramas van Ibsen val in hierdie klas, veral Die wilde eend wat deur baie kritici as die model van 'n tragikomedie beskou word. Vanweë hulle subtiele vermenging van tragiese en komiese motiewe kan die dramas van Tsjechov ook so genoem word, hoewel hy self verkies het om hulle komedies te noem.

Dit is veral in die 20e eeu dat die tragikomedie 'n groot opbloei beleef, met skrywers soos Pirandello, Beckett, Ionesco en Durrenmatt. Dit hang saam met die agteruitgang van die tragedie. Dramaturge soos Ionesco en Durrenmatt beweer selfs dat dit nie meer moontlik is om tragedies te skryf nie, en dat die tragikomedie die enigste tipe drama is waardeur die moderne wêreld uilgebeeld kan word. Dit is nie altyd moontlik om tussen die moderne tragikomedie en die ABSURDE DRAMA te onderskei nie, hoewel daar gesê kan word dat lg. meer van GROTESKE situasies gebruik maak, terwyl die tragikomedie hom meer by die alledaagse werklikheid hou.

In Afrikaans sou Die goue kring van Uys Krige 'n tragikomedie genoem kan word.

Die vroeë geskiedenis van die tragikomedie word beskryf deur Herrick (1962) en Guthke (1961). Die beste behandeling van die moderne tragikomedie is die van Guthke (1966). Kyk verder ook Durrenmatt (1955), Hoy (1964), Styan (1968), die betrokke hoofstuk van Bentley (1965) en die artikel van Corrigan (1981).
(Vgl. TRAGEDIE en KOMEDIE.)

 

Bibliografie

Bentley, E.C. 1965. The Life of the Drama. London: Methuen.

Corrigan, R.W. 1981. Tragicomedy. In: Corrigan, R.W. Comedy: Meaning and Form. New York: Harper & Row.

Durrenmatt, F. 1955. Theaterprobleme. Zurich: Arche.

Guthke, K.S. 1961. Geschichte und Poetik der deutschen Tragikomödie. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Guthke, K.S. 1966. Modern Tragicomedy: An Investigation into the Nature of the Genre. New York: Random House.

Herrick, M.T. 1962. Tragicomedy: Its Origin and Development in Italy, France and England. Urbana: University of Illinois Press.

Hoy, C. 1964. The Hyacinth Room: An Investigation into the Nature of Comedy, Tragedy and Tragicomedy. New York: Knopf.

Kitto, H.D.F. 1950. Greek Tragedy. London: Methuen.

Styan, J.L. 1968. The Dark Comedy: The Development of Modern Comic Tragedy. Cambridge: Cambridge University Press.

Raadpleeg ook:

Blau, H. 1986. The absolved riddle: Sovereign pleasure and the baroque subject in the tragicomedies of John Fletcher. New Literary History, 17(3).

Dutton, R. 1986. Modem Tragicomedy and the British Tradition. Norman: University of Oklahoma Press.

Hernadi, P. 1985. Interpreting Events: Tragicomedies of History on the Modern Stage. Ithaca: Cornell University Press.

Shawcross, J.T. 1987. Tragicomedy as Genre, Past and Present. In: Maguire, N.K. (ed.). Renaissance Tragicomedy. Explorations in Genre and Politics. New York: AMS

 
E.J. Conradie