Die term paradigma word op verskillende maniere gebruik. In die antieke Griekse retoriek is 'n paradigma 'n voorbeeldverhaal wat as 'n logiese argument gegeld het, of die verhaal reëel of FIKTIEF van aard was. Die paradigma is dan gebruik om iets te verklaar of om mense tot navolging aan te spoor, soos wat 'n mens ook vind by die EXEMPLUM.

In die wetenskapsfilosofie (vgl. die werk van T.S. Kuhn) word die term paradigma gebruik om die geheel van konsepte, metodes en toepassings aan te dui wat die werk van 'n groep wetenskaplikes kenmerk. Sulke wetenskaplikes werk gewoonlik in 'n bepaalde historiese periode en in 'n bepaalde vakgebied en deel dieselfde aannames en metodes, wat enersyds bepaal wat relevant is vir die studieterrein en die studie self en andersyds ook die aard van die toepassings bepaal. Die fase waarin 'n paradigma funksioneer word gewoonlik voorafgegaan deur 'n preparadigmatiese fase waarin daar d.m.v. filosofiese besinning oor konsepte en metodes uitgangspunte geformuleer moet word. In die toepassingsfase kan leemtes of die onhoudbaarheid van die aannames duidelik word sodat veranderinge en aanpassings gedoen moet word. So word 'n paradigmatiese fase self 'n preparadigmatiese fase in 'n voortdurende proses.

Die term paradigma word op hierdie wyse gebruik om te verwys na die opeenvolgende benaderingswyses wat bv. in die humanitêre wetenskappe onderskei kan word. Die siening van die literatuur as objek van die Literatuurwetenskap en die vraag na die manier waarop die literatuur bestudeer moet word (indien wel), het deur die eeue aaneenlopend veranderinge ondergaan, wat as paradigmawisselinge beskryf kan word (bv. van POSITIVISME en Geistesgeschichte na FORMALISME en STRUKTURALISME en weer na POST-STRUKTURALISME). Daar word gesê dat die Literatuurwetenskap in die 20e eeu twee groot paradigmawisselinge ondergaan het. Die literêre TEKS is aan die begin van die eeu gesien as dokument van die genialiteit van die kunstenaar. Daarna, volgens die intrinsieke benadering van die formalistiese skole (NEW CRITICISM en RUSSIESE FORMALISME), word die teks gesien as monument; komplete, afgeronde, onaantasbare en selfgenoegsame monument. Volgens die strukturalistiese en post-strukturalistiese teorieë is die teks nie meer dokument of monument nie, maar teken, en die hele kwessie van betekenis (as signifikasie) en sin kom a.g.v. die arbitrêre aard van die verhouding tussen betekenaar en betekende, in die brandpunt van literêre diskussies te staan.

In die taalkunde is die term paradigma nog altyd gebruik om na die reekse verbuigings en vervoegings van woorde te verwys, bv. die vorme van 'n werkwoord of naamwoord op grond van die grammatikale funksie van die woord. Ferdinand de Saussure het die taalkundige term paradigma 'n meer algemene betekenis gegee deur enige reeks taalterme of linguistiese eenhede wat op grond van onderlinge sistematiese ooreenkomste as 'n klas of 'n kategorie beskou kan word, as 'n paradigma te beskryf. Die ooreenkoms waarvolgens die reeks as 'n klas of kategorie beskou kan word, kan fonologies, grammatikaal, semanties, ens. van aard wees. So vorm woorde wat rym ("pak", "bak", "rak") 'n paradigma. Ook die grammatikale vorme van 'n werkwoord (ich bin, du bist, er ist, ens.) of verskillende woorde wat semantiese ekwivalensie vertoon ("man", "vent", "kêrel", ens.), vorm 'n paradigma.

In die strukturalistiese linguistiek en strukturalistiese Literatuurwetenskap is die paradigma en veral die begrippepaar paradigma en sintagma 'n belangrike en sentrale konsep. Taal word beskou as 'n sisteem van tekens, en tussen die tekens is daar paradigmatiese en sintagmatiese verhoudinge wat bepalend is vir die sisteem en vir elke teken self. Waar die paradigma te make het met die reekse taaleenhede wat op grond van ooreenkomste as klasse of kategorieë beskou kan word, het die sintagma te make met die ordening van tekens of taaleenhede op 'n lineêre as, d.w.s. in opeenvolging. Die sintagmatiese verhoudinge tussen tekens bepaal die lineêre horisontale posisie van 'n teken in 'n taaluiting, want hierdie verhouding het met die lineêre opeenvolging en ordening van elemente te make. Elke teken in die sintagma of sintagmatiese struktuur word op sy beurt gekies uit 'n paradigmatiese voorraad van elemente wat onderling bepaalde sistematiese ooreenkomste vertoon. Die taal word dan beskryf as 'n sisteem wat op twee asse funksioneer: op die paradigmatiese as word elemente geselekteer en hierdie gekose elemente word dan gekombineer en gerangskik op die sintagmatiese as. Die paradigmatiese as is dus die seleksie-as, die vertikale of sinchroniese as wat as 'n voortdurend beskikbare sinchroniese voorraad van taalmoontlikhede bestaan. Die sintagmatiese as is die lineêre kombinasie-as, wat horisontaal en diachronies in opeenvolging bestaan. 'n Studie soos Propp se analise van die Russiese "Sprokies is 'n sintagmatiese studie omdat dit kyk na kombinasie-moontlikhede in die lineêre opeenvolging van die elemente waaruit die sprokies opgebou is. Lévi-Strauss se strukturele antropologie werk weer primêr paradigmaties en Greimas poog om met sy AKTANSÏELE MODEL 'n kombinasie te maak van die paradigmatiese en sintagmatiese werkwyses.

Jakobson gebruik die onderskeiding tussen paradigma en sintagma om die poëtiese aard van literere tekste te definieer. Alle verbale gedrag vertoon volgens Jakobson twee basiese patroonmatighede, nl. seleksie en kombinasie. As gesê wil word dat 'n kind slaap, kan gekies word tussen woorde soos "kind", "kleuter", "kleintjie" en ook tussen woorde soos "slaap", "sluimer", "dut", ens. Die gekose woorde word gekombineer. Die seleksie geskied op grond van ekwivalensie, gelykheid en ongelykheid, sinonimie en antonimie, en die kombinasie, die opbou van 'n lineêre reeks, is gebaseer op kontinuïteit. Deur so te selekteer dat die reeks in kombinasie meer word as die draer van die primêre semantiese of grammatikale waardes, deur as 't ware die ekwivalensie-moontlikhede uit te buit ter wille van relevering van o.m. die taal self, word 'n taaluiting poëties van aard: "De poëtische functie projecteert het principe van de equivalentie van de as der selectie op de as der combinatie" (Jakobson, 1977: 105). Die ekwivalensie word so verhef tot die bepalende prinsipe by die opbou van die lineêre reeks.

Op hierdie wyse kan 'n ondersoek na paradigmatiese en sintagmatiese verhoudinge in 'n teks o.m. iets van die poëtiese aard van die teks openbaar.

 

Bibliografie

DuPlooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

Hawkes, T. 1977. Structuralism and Semiotics. London: Methuen.

Jakobson, R. 1977. Linguïstiek en poëtica. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.

Kuhn, T.S. 1973. The Structure of Scientific Revolutions. Chicago: University of Chicago Press.

Saussure, F. de. 1960. Course in General Linguistics. London: Owen.

Scholes, R. 1974. Structuralism in Literature. New Haven: Yale University Press.

 
Heilna du Plooy