ARTEFAK EN ESTETIESE OBJEK

 (Hersien Januarie 2017)

Aristoteles het reeds in die Klassieke tyd 'n onderskeid getref tussen natuurlike objekte en dinge wat deur 'n psigiese proses tot stand kom. Die terme artefak (Lat.: arte factum: kunstig gemaak) en estetiese objek (Gr.: aisthetikos < aisthanesthai: om waar te neem of te voel) is die eerste keer (1936) deur die Praagse Strukturalis Jan Mukařovský gebruik. Volgens hom is die artefak die materiële kunswerk terwyl die estetiese objek die interpretasie daarvan is. Laasgenoemde kom deur die materiële objek volgens die kollektiewe bewussyn van die leser tot stand (Mukařovský, 1977: 90). (Die kollektiewe bewussyn verwys na die gedeelde oortuigings, idees en morele perspektiewe van 'n bepaalde tyd.) Die estetiese objek is dus subjektief van aard omdat die kollektiewe bewussyn nie iets stagnants is nie.

Die artefak se struktuur is onveranderlik (dit bly 'n roman al lees 'n mens dit in elektroniese vorm i.p.v. as letters op papier); die estetiese objek se struktuur verander voortdurend omdat elke leser 'n unieke interpretasie van die artefak het na gelang die 'inhoud' van die kollektiewe bewussyn verander, bv. baie van Boccaccio se eietydse lesers (14de eeu) het die erotiese verhale in die Decamerone as moreel onaanvaarbaar beskou terwyl talle 21ste-eeuse lesers bloot daaroor glimlag. Ook: die interpretasies van die strukturele aspekte van 'n BAROKKUNSWERK en 'n KUBISTIESE KUNSWERK verskil van mekaar al is die interpreteerder van albei artefakte dieselfde persoon; 'n gedig van Lucebert en 'n SONNET van Hooft skep verskillende soorte interpretasies omdat Lucebert se gedigte as moderne poësie (en geskryf in vrye vers - kyk VERS LIBRE) die leser meer assosiasieruimte toelaat as in die geval van Hooft se sonnet wat volgens die strenger klassieke model gestruktureer is. Verskillende estetiese objekte kom so tot stand.

Wanneer artefakte uit verskillende tydperke geëvalueer word, resulteer dit vanselfsprekend in verskillende estetiese objekte (die kollektiewe bewussyn het verskuif). 'n Mens het as ‘t ware telkens ‘n ander kunswerk (Mukařovský, 1977: 90). Sulke veranderings word duidelik wanneer, byvoorbeeld, verskillende vertalings uit verskillende eras van dieselfde literêre werk naas mekaar geplaas word: elke vertaler het die oorspronklike teks op sy eie manier geïnterpreteer en daarvolgens vertaal. ('n Kontemporêre vertaling van Boccaccio se oorspronklike Florentyse teks verskil van 'n 19de-eeuse vertaling daarvan.) Die verskil in interpretasie (die afsonderlike estetiese objekte) word duidelik wanneer die aparte vertalings met die oorspronklike teks vergelyk word. Verskillende Bybelvertalings (veral die veelvuldige Engelse vertalings) illustreer die beginsel goed.

Die onderskeid wat tussen die artefak en estetiese objek getref word, is dieselfde as dié wat tussen SIGNIFIANT (die teken, d.w.s. die artefak) en SIGNIFIÉ (die betekende, d.w.s. die estetiese objek) getref word. Bondig gestel: die artefak is die potensiële estetiese objek en die estetiese objek is die geïnterpreteerde artefak, d.w.s. die KONKRETISERING van die artefak.


Literatuur

Andina,Tiziana. 2013. The Philosophy of Art: The Question of Definition: From Hegel to Post-Dantian Theories. London: Bloomsbury.
Du Plooy, Heilna. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.
Fokkema, D.W & Kunne-Ibsch, E. 1977. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: Hurst.
Hilpinen, Risto, Artifact, The Stanford Encyclopedia of Philosophy (Winter 2011-uitgawe), Edward N. Zalta (red.), https://plato.stanford.edu/archives/win2011/entries/artifact/
Mukařovský, J. 1977. De kunst als semiotisch feit. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, Elrud. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Ambo.
Striedter, Jurij. 1989. Literary Structure, Evolution, and Value: Russian Formalism and Czech Structuralism Reconsidered. Harvard Studies in Comparative Literature 38. Cambridge, Mass: Harvard University Press.
Veltruský, J. 1980-1981. Jan Mukařovský's Structural Poetics and Aesthetics.  Poetics Today, 2(lb):117-57.

 


Anna-Marie le Roux