Die term satura (Lat.: satira: 'n latere vorm van satura: 'n bonte mengelmoes, 'n deurmekaarspul), het oorspronklik na 'n Latynse poetiese vorm verwys waarvan Lucilius die pionier-digter was: 'n lang gedig wat dialoog bevat, geskryf in heksameters en waarin die swakhede en wanprakryke van die gemeenskap bespot word. In 'n sekere stadium in die ontwikkeling van die begrip het daar verwarring gekom tussen die Latynse vorm satura en die Griekse begrip satyros, wat daartoe gelei het dat die woord as satyra geskryf is en later in Engels satyre geword het. Hierdie etimologiese verwarring is in 1605 opgeklaar deur die Franse geleerde Isaac Casaubon.

Dr. Johnson het die begrip in sy woordeboek verklaar as "a poem in which wickedness or folly is censured". Dryden het beweer dat die ware oogmerk van die satire "the amendment of vices by correction" is. Satire, skryf Swift (Scott, 1967 en Murray, 1978), "is a sort of glass wherein beholders do generally discover everybody's face but their own, which is the chief reason for that kind of reception it meets in the world, and that so very few are offended with it". Nichols (1971) definieer die begrip as "the systematic exploitation, with aggressive intent, of what are, or are made to seem deviations from the norm within a context". G. Highet (1962) sê die doel van satire is "to tell the truth laughing." Spot, wat ook die absurde en groteske kan betrek, is 'n belangrike aspek van die satire.

Elk van hierdie omskrywings bevat 'n waarheid i.v.m. die literêre begrip satire en sy gevarieerde funksies. Johl (1988: 46) reduseer die verskillende satire-beskouings tot twee hoofkategorieë: "(a) die tradisionale siening dat satire hoofsaaklik aanvalsgerig is, en wel teen optredes, gewoontes en gebruike van die mens wat nie is wat hy behoort te wees nie; wat m.a.w. 'n standaard of morele norm impliseer waaraan die onbevredigende toedrag gemeet word ten einde 'n korrektiewe funksie te vervul; (b) Ulrich Gaier se siening van satire as militante woordkuns waarin sowel die outeur as die leser in verset kom teen 'n werklikheid wat hulle as bedreigend ervaar."

Die satirikus is 'n idealis: hy is skerp bewus van die diskrepansie tussen ideaal en werklikheid; die verskille wat daar bestaan tussen skyn en wese, tussen dit wat mense amptelik verteenwoordig en hoe hulle hulle gedra; die wanverhouding tussen woorde en dade. Hierdie teenstrydighede amuseer hom of maak hom woedend; daarom rig hy sy aggressie lynreg teen 'n onbevredigende toedrag en stel hy die ongerymdhede belaglik voor.

Die satirikus kan uiteenlopende onderwerpe hanteer: die gewigtigste, diepsinnigste tema én die triviaalste, die soberste én die losbandigste, die heiligste én die profaanste, die sensitiefste én die walglikste. Geen onderwerp is vir die satirikus heilig nie, immers: "satire has an interest in everything that men do" (Juvenalis). Die soort onderwerp wat die satirikus kies, is altyd konkreet, altyd aktueel, dikwels persoonlik. Satiriese kuns kan, ten spyte van die feit dat dit gaan oor die bespotting en verkleinering en veroordeling van die onvolmaakthede van hier en nou, tog tydlose kuns wees, mits die materiaal behendig en sinvol georden is en die kwessies ter sprake relevant en snaaks bly.

Satire het 'n morele onderbou en die satirikus, as bewaker van ideale/standaarde/norme, is 'n moralis. "The best satire, that which is surest in tone, is that which is surest in its values" (A. Pollard). Die satirikus protesteer teen morele kankers soos skynheiligheid, trots, gierigheid, wellus, haat, jaloesie; hy veroordeel en bespot ook intellektuele ondeugde soos selftevredenheid, dwaasheid, beterweterigheid, snobisme, naïewe optimisme. As moralis is dit sy taak om al hierdie dwaashede en wanpraktyke, waarvoor die mens moreel verantwoordelik gehou kan word, aan die kaak te stel ten einde hervorming te bewerkstellig. Die satirikus lag nie vir homself nie; hy beskou homself as meerderwaardig teenoor sy slagoffer en immuun teen die dinge wat hy verkleineer. Die satirikus – as man van bepaalde morele en etiese waardes – en sy lesers/gehoor van "regdenkende" mense moet saamstem oor wat as afkeurenswaardig beskou word: hulle moet dieselfde waardes of norme waarvolgens die slegte en dwase dinge beoordeel word, gemeen hê. Groot satire wat blywend is, steun op norme wat universeel is en op waardes wat hulle eie tyd en plek transendeer.

Die satiriese tegniek steun primêr op 'n appèl op die intellek. Daarom sluit die tipiese satiriese wapens die volgende in: GEESTIGHEID (wit), SARKASME, IRONIE (van milde ironie tot bytende sarkastiese ironie), sinisme, PARADOKS, antitese, PARODIE, antiklimaks, die spel met ongerymdhede, oordrywing, verdraaiing, karikaturisering, die BURLESKE, skeldtaal. Al hierdie dinge maak seer, en satire is bedóél om seer te maak; "to tell the truth laughing" is die satirikus se strewe, en die waarheid is nie altyd mooi nie.

Die komplekse satiriese emosie wat m.b.v. al die bostaande literêre middele gewek word, is 'n vermenging van geamuseerdheid, ergerlikheid, veragting, walging, haat.

Om 'n suksesvolle satirikus te wees, vereis 'n enorme uitgebreide woordeskat. Tot die satiriese taal behoort o.a. ook gemene, selfs smerige en brutale woorde, antiliterêre, plat omgangstaal, taboe-uitdrukkings, obsene beeldspraak, kru koeterwaals.

Satires kom in 'n groot verskeidenheid toonaarde voor: hulle kan kru en vulgêr, grof en brutaal, verfynd en elegant, geestig (witty) en hoflik, ontspanne en informeel, moraliserend en ironies, smalend en verontwaardig, geamuseerd en sinies wees. Binne 'n enkele werk kan 'n groot aantal van hierdie, soms botsende toonaarde aanwesig wees.

Wat die woordeskat, emosionele toonaard maar ook sinstruktuur en intrige van die satire betref, kom die satirikus altyd met die onverwagse na vore: hy wil die leser/gehoor skok, hom dwing om na die waarheid te kyk en hom dan lei tot gevoelens van verset.

Tema/onderwerp, satiriese wapen/retoriese middel, satiriese emosie, woordeskat — die hele kuns van die satire toon as oorheersende kenmerk: verskeidenheid. Die oerbetekenis van satura: '"n bonte mengelmoes", blyk inderdaad uit al die fasette van die satire.

Ons onderskei veral twee basiese tipes satire, waarvan die twee groot Romeinse satirici, Horatius en Juvenalis, die vaderfigure is.

Die optimistiese Horatius-tipe satirikus hou van mense en glo nie dat dwaasheid en boosheid ingebore in die mensheid is nie – dis foute/kwale wat genees kan word. HUMOR is vir hom 'n effektiewer satiriese wapen as sarkasme, en sy humor is vriendelik, joviaal, aangenaam en gerig op tipes eerder as individue, op dwaashede eerder as op gebreke; hy wil oorreed eerder as veroordeel. Hy spot, maar sy lag is "wholesome laughter".

Die pessimistiese Juvenalis-tipe glo die bose is gewortel in die mens se aard en in die struktuur van die gemeenskap – niks kan dit genees nie; daarom verdien die mens slegs veragting; die satirikus skryf op onbarmhartige meedoënloos-onpersoonlike wyse oor hom; hy satiriseer lewende mense en die toon van sy satires is wrokkig; méér nog: deurtrek van blinde, bittere haat. Hy praat as ernstige moralis wat voel dat die wêreld ontwrig is, en sy satire is in die vorm van morele verontwaardiging, van protes. Sy oogmerk met sy soort satire is nie om te genees nie, maar te verwond, te straf, te vernietig. Daar is geen helende warmte in sy lag nie.

Satire kom gewoonlik in drie hoofvorme voor: (i) As monoloog: die satirikus praat in eie persoon en spreek sy leser/gehoor direk aan (Adam Small: "Doemanie"). (ii) As parodie (A.G. Visser: "Lotosland"). (iii) In verhalende of dramatiese vorm (Etienne Leroux: Magersfontein, o Magersfontein!; Bartho Smit: Die Reiser).

Die satire het nie 'n aparte, suiwer, eksklusiewe vorm nie: ons vind satiriese elemente in literêre vorme soos die EPOS, FABEL, telegie, monoloog, liefdeslied, verhalende vers, BALLADE, bonnet, en in ons eie tyd veral in die revue en die KABARET (LITERÊRE/ARTISTIEKE). Die satire het al die vorm aangeneem van die ANEKDOTE, BIOGRAFIE en politieke pamflet. Satiriese vorme wissel van heilige preke en gebede tot die sekulêrste vorme soos gidsboeke en sakebriewe.

Hoewel die satire die bose kritiseer en wanprakryke aan die kaak stel, is die morele intensie nie die primêre aspek van hierdie kunsvorm nie. Die outeur se morele bewustheid word egter 'n komponent van sy tegniek. Die eintlike appèl wat die satire maak, soos enige ander woordkunswerk, lê in sy literêre meriete: die buitengewoon knap ontginning en ordening van die materiaal, die kundige hantering van tegniese middele, die verrassend oorspronklike perspektief op die bekende ... Nie wat gesê word nie, maar hoe dit gesê word, bepaal die appèl wat die satire op die leser/gehoor maak. Die satire is nie 'n *genre nie maar 'n literêre prosedure, nie 'n soort geskrif nie maar 'n wyse van skryf.


Die egte satire moet onderskei word van skeldtaal (invective) en sy formele literêre uitdrukkingsvorm, die skimpskrif (lampoon), asook van die sosiale KOMEDIE, die klug (sien: KLUG (MIDDELEEUSE) en KLUG (MODERNE)) en die BURLESKE.

'n Goeie voorbeeld van die satire is die Middelnederlandse DIERE-EPOS Van den Vos Reinaerde.

Beroemde satirici is, in Engeland: Dryden, Swift, Addison, Steele, Pope, Fielding, Byron, Thackeray; in Spanje: Cervantes; in Frankryk: Rabelais en Voltaire. In Afrikaans is die bekendste satirici Dr. O'Kulis (vgl. sy Eselskakebeen), C.J. Langenhoven, A.G. Visser, N.P. van Wyk Louw. Die Afrikaanse literatuur van na sestig toon 'n sterk satiriese inslag. Enkele voorbeelde: 'n Seder val in Waterkloof (P.G. du Plessis); Die Reiser (Bartho Smit); Drakenstein, my Drakenstein (M.M. Walters); Sewe dae by die Silbersteins en Magersfontein, o Magersfontein! (Etienne Leroux).

Die satire is een van die belangrikste elemente van die literêre kabaret, soos blyk in Hennie Aucamp se kabarette Met permissie gesê en Slegs vir almal. Daar is sterk satiriese elemente in die poësie van digters soos Peter Blum, Adam Small (vgl. veral die bundels Kitaar my kruis en Sê sjibbolet), Breyten Breytenbach, Wilma Stockenström, George Weideman en Eveleen Castelyn. M.M. Walters (vgl. veral sy Saturae) is een van die belangrikste satirici in Afrikaans.

(Vgl. EINFACHE FORMEN)

 

Bibliografie

Braund, S.M.  1996.  The Roman Satirists and their masks. London: Bristol. Classical Press.

Feinberg, L. 1967. Introduction to Satire. Iowa: The Iowa State University Press.

Frye, N. 1957. The Anatomy of Criticism. New Jersey: Princeton University Press.

Highet, G. 1962. The Anatomy of Satire. New Jersey: Princeton University Press.

Johl, J. 1988. Ironie. Pretoria: HAUM-Literêr.

Kernan, A.B. 1959. The Cankered Muse. New Haven: Yale University Press.

Murray, P. 1978. Literary Criticism. A Glossary of Major Terms. London: Longman.

Nichols, J.W. 1971. Insinuation: The Tactics of English Satire. The Hague: Mouton.

Paulson, R. (ed.). 1971. Satire: Modern Essays in Criticism. New Jersey: Prentice Hall.

Petro, P. 1982. Modern Satire: Four studies. New York: Mouton Publishers.

Pollard, A. 1970. Satire. London: Methuen.

Scott, A.F. 1965/1967. Current Literary Terms. A Concise Dictionary of their Original Use. London: Macmillan.

Sutherland, W.O.S. 1965. The Art of the Satirist. Austin: University of Texas Press.

Van Rooy, C.A.  1965.  Studies in Classical Literature and Related Literary Theory. Leiden: Brill.

Worcester, D. 1960. The Art of Satire. New York: Russell & Russell.

 
Réna Pretorius