CONCEPTISMO

Die conceptismo is 'n styl wat in die 17e eeu (dus gedurende die BAROK) in die Spaanse prosa voorgekom het. Kenmerkende eienskappe van die styl is vernuftige woordspelings, die weglating van dele van sinne, onverwagte, kort teenstellings, vergelykings, vergesogte metafore en toespelings. Die belangrikste eksponente van die conceptismo was Quevedo en Grácian. Grácian het ook 'n handleiding, getitel Aqudeza y arte de ingenio (1642, 1648), vir die conceptismo geskryf waarin hy uiteengesit het hoe 'n mens die conceptismo-kuns moet skryf en verstaan.

 

Francisco Gómez de Quevedo y Villegas was die leier van die conceptismo. Dit staan teenoor die CULTERANISMO – Quevedo het ook sterk te velde getrek teen die culteranismo. Dit kom ook tot uiting in 'n aantal SATIRES wat hy op die culteranismo tussen 1626 en 1635 geskryf het. Quevedo en sy aanhangers was gekant teen enige onduidelike toespelings, argaïese en duistere taalgebruik en enige vorm van hermetisisme. Ten spyte daarvan dat hulle gebruik gemaak het van baie metafore, vergelykings en vernuftige woordspelings, was hulle van mening dat die taalgebruik duidelik en idiomaties korrek moes wees.

 

Die conceptismo het, soos reeds genoem, 'n afkeer gehad van hermetisisme. Daar kan egter van hulle werk ook gesê word dat dit soms duister is vanweë die weglating van dele van sinne, die kort vergelykings en allerlei toespelings.

 

Raadpleeg ook:

Collard, A. 1967. Nueva Poesia: conceptismo, culteranismo en la critica espanola. Massachusetts: Waltham.

 

Garcia Berrio, A. 1968. Españia e Italia ante el conceptismo. Madrid: Consejo Superior de Investigaciones Cientificas.

 

Valle-Killeen, S. 1984. La ideologia del conceptismo: Origenes Circulo. Revista de Cultura, 13.

Chevalier, M. 1988. Conceptisme, culteranisme, agudeza. Dix-Septieme Siècle, 160.

 

Anna-Marie Bisschoff