LITERATUURGESKIEDSKRYWING
Die dissipline literatuurgeskiedskrywing (of historiografie) het sy bestaan te danke aan ʼn aantal verskynsels: eerstens dat literêre kodes, strukture, ens. (saam met die konteks waarin dit ontstaan en bestaan) steeds verander; tweedens dat die waardering van literêre werke steeds aan skommeling onderhewig is; en derdens dat die korpus literêre werke in enige lewende taal steeds aangroei, wat die verhouding van werke tot mekaar wysig. "We must conceive ... of literature as a whole system of works which is, with the accretion of new ones, constantly changing its relationships, growing as a changing whole" (Wellek & Warren, 1963: 255). Die taak van die literatuurgeskiedskrywing hou dus nooit op nie, vanweë die dinamiese aard van die literatuur.
Dit spreek byna vanself dat die literatuurgeskiedskrywing sélf ʼn geskiedenis het, soos die literatuur. Die literatuurgeskiedskrywing is een van die oudste dissiplines van literatuurstudie, indien nie die oudste nie.
Hoe oud hierdie dissipline ook al is, het dit tot betreklik onlangs relatief weinig rekenskap gegee van prinsipes en metodes. Pas in die 20e eeu het daar werklik grondige besinning gekom op hierdie gebied. Die vier persone wat hierin die belangrikste leiding geneem het, is die RUSSIESE FORMALISTE V. Šklovskij, J. Tynjanov, die Tsjeggiese strukturalis F. Vodička en die Duitse resepsie-estetikus H.R. Jauss. Die eg. drie het hulle veral toegelê op die veranderings of vernuwingsverskynsel in die literatuur, ook genoem literêre *evolusie of mutasie: ʼn sekere soort literatuur raak oorbekend; 'outomatisering of afstomping vind plaas by die lesers, d.w.s. hulle raak so gewoond daaraan dat dit hulle nie langer aanspreek nie (en vir hierdie doel kan veral die skrywer sélf ook as ʼn leser beskou word). Dan tree VERVREEMDING in, deurdat die nuwe skrywer(s), of selfs die reeds bekende skrywer(s) allerlei vernuwings in die literatuur invoer (tematies, IDEOLOGIES, ritmies, METRIES, fonies, sintakties, PROSODIES, ens.).
Hieruit blyk al dadelik dat wat ons literatuurgeskiedenis noem, nie in die eerste plek lê in die VERANDERING van literêre tekste sélf nie, maar in ʼn verandering in die lesers se KONKRETISERING, smaak, insigte, evaluering, ens.
Literatuurgeskiedenis is in die eerste plek dus ʼn lesersgeskiedenis, maar ook taalgeskiedenis.
Die gedagte van literêre evolusie is nie nuut nie. Dit het reeds voorgekom by Aristoteles, later by Hegel en Bergson (vgl. ook Wellek, 1963, oor "The concept of evolution").
Die konvensionele, selfs uitgediende, literatuurgeskiedskrywing het hom tot op die huidige dag baie sterk bly handhaaf, ten spyte van die indringende prinsipiële besinning wat die 20e eeu gebring het. Dit is nog steeds so "dat de praktijk ... bij de theorie ten achter blijft" (Van Luxemburg, Bal & Weststeijn, 1982: 224). "Because for too long it has confused its object with that of neighbouring disciplines, literary history – the oldest branch among the disciplines of literary studies – today looks like a poor relation" aldus Ducrot & Todorov (1981: 148) in die Encyclopedic Dictionary of the Sciences of Language. Reeds Tynjanov (1971: 66) het opgemerk "Within the cultural disciplines literary history still retains the status of a colonial territory."
Die literatuurgeskiedskrywing wil die literatuur altyd as ʼn eenheid sien. Die vraag is hóe sien daardie eenheid inderdaad daar uit. Die eenheid van ʼn literatuurgeskiedenis word tradisioneel gesoek in die taal waarin dit geskryf is en in die volk wat daardie taal praat, met die oortuiging dus dat daar iets soos ʼn *nasionale literatuur is wat, behalwe linguisties en nasionaal, ook geografies bepaal is, terwyl die ander kunste, soos die musiek, beeldhou- of skilderkuns, die argitektuur, hulle geskiedenis dikwels skryf sonder om met nasionaliteite rekening te hou (vgl. Wellek & Warren, 1963: 253).
Literêre bewegings is egter selde net nasionaal gemotiveer of gebonde. Die RENAISSANCE, ROMANTIEK, IMPRESSIONISME, EKSPRESSIONISME, om slegs ʼn paar te noem, was almal intemasionaal.
Binne die nasionale en taaleenheid waarvan die ouderwetse literatuurgeskiedenis uitgaan, word die werke wat tot daardie eenheid behoort dan volgens die konvensionele patroon chronologies gerangskik, ʼn metode wat alleen geoorloof is in die literêre KRONIEK, wat onderskei moet word van die literatuurgeskiedenis. Die kroniek rangskik skrywers òf chronologies òf alfabeties òf tematies en is gerig op ʼn ensiklopediese register van die (hoof)werke in ʼn besondere literatuurtaal. ʼn Literatuurgeskiedenis moet nie ingestel wees op ʼn ensiklopediese inventaris van werke nie.
Die rangskikking volgens OUTEURS en oeuvres binne die chronologie is ʼn ander populêre literatuurhistoriese ordeningsbeginsel, met ʼn meestal ongemotiveerde versameling van allerlei feitlikhede oor die skrywer en sy werk, ʼn versameling of "oorsig" van allerlei interpretasies, kritiese uitsprake, kommentaar e.d. Dikwels hang die keuse van die werke wat betrek word van die smaak en die voorkeur van die literatuurgeskiedskrywer af sonder dat daar gekyk word na wat werklik histories van belang is.
Soms kry mens in die literatuurgeskiedskrywing tematiese rangskikkings, of rangskikkings volgens die onderskeie genres, e.d. Hierdie soort oorsigtelike literatuurgeskiedenisse word die panoramiese literatuurgeskiedskrywing genoem. In die meeste gevalle sou dit beter wees om hierdie tipe literatuurstudie of literatuurkonglomerate te sien as kronieke, of as ʼn versameling genrestudies, of ʼn versameling oeuvrestudies, sonder dat ons egter in hierdie versameling enige besinning kry op wat die literatuurhistoriese werklik is, "Notable historians of literature such as Friedrich Schlegel, Taine, De Sanctis, and Courthope have differed greatly in scope and method and individual sympathies, but they have had in common a conception of their task not as the reporting of a gigantic congeries of mere events and names and dates, but as the finding of meaningful patterns and correlations, the sorting out of the facts that have consequences from those that seem to have none. Their work is critical from the beginning, in the sense that at every stage they must make the basic distinctions between what is and what is not literature, between authors who do not count and those who do", aldus Preminger (1979: 167) in die Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics.
In die moderne tyd staan die outeurskap van byna alle literêre werke vas, sodat dit maklik is om die oeuvre van ʼn skrywer te identifiseer. Maar dit geld nie vir alle tye nie. ʼn Groot skat van die Middeleeuse literatuur behoort nie tot ʼn bepaalde oeuvre nie, selfs nie tot een van die hedendaagse tale nie. Dit geld ook vir baie literêre werke in die MONDELINGE LITERATURE van Afrika van vandag.
Die literatuurhistoriese praktyk om literêre werke volgens outeurs, d.w.s. volgens oeuvres (chronologies) in te deel, kan dus nie in alle gevalle toegepas word nie, as dit hoegenaamd sin het om van oeuvres uit te gaan in literatuurgeskiedenisse. Waar ʼn oeuvre wel geïdentifiseer kan word as oeuvre, kan die literatuurhistorikus nie ongemotiveerd uitgaan van geboortedatums van skrywers of verskyningsdatums van werke nie. Hy kan ook nie willekeurig, volgens eie smaak en voorkeure, hierdie of daardie werk uitkies vir sy aandag nie, eenvoudig omdat nie alle literêre werke geskiedenis maak nie, en daaronder val soms heel voortreflike literêre werke. Vir die literatuurhistorikus is alleen dié werke relevant wat werklik geskiedenis gemaak het – tematies, semanties, ritmies, fonies, sintakties, perspektiwies, of hoe ook al – dit is juis a.g.v. die verwikkelde van die literêr-historiese dat so betreklik baie aspekte van die literêre werk daarby betrokke is, en dikwels op ʼn moeilik naspeurbare manier. Die tematiese literatuurhistoriese op sigself is die oppervlakkigste en onbelangrikste aspek daarvan. Om binne ʼn oeuvre vas te stel, bv. in dié van N.P. van Wyk Louw, watter gedigte literatuurhistories van belang is en watter nié, is ʼn baie verwikkelde taak.
Dit is ook reeds literatuurhistoriese konvensie om binne ʼn oeuvre weer die afsonderlike werke (digbundels (selfs gedigte!), ROMANS, DRAMAS) een vir een chronologies te behandel, maar digbundels, bv., is nie altyd as digbundels literatuurhistories relevant nie, om van afsonderlike gedigte nie te praat nie. Sekere goeie gedigte kan literatuurhistories van weinig belang wees; ander weer, wat op die duur, op sigself gesien, van minder waarde is, kan literatuurgeskiedenis maak deurdat later skrywers reaksionêr daarteen gaan skryf, soos Breytenbach en Blum gedigte geskryf het téén Totius of W.E.G. Louw.
Die literatuurhistorikus is soos enige ander persoon ʼn LESER van literatuur. Tog gaan dit nie in die eerste plek in ʼn literatuurgeskiedenis om sy eie siening, kommentaar of interpretasie van hierdie of daardie werk(e) nie. Sommige teoretici het die opvatting dat dit in die literatuurgeskiedskrywing glad nie gaan om die enkelwerk nie. "Literary history ... cannot be the study of particular works that are unique specimens ... We shall say, on the contrary, that literary history must study literary discourse, not works; thus literary history is defined as part of poetics" (Ducrot & Todorov, 1981: 145). Dit is miskien ʼn ekstreme standpunt, maar dit is ʼn juiste standpunt as daarmee bedoel word dat die literatuurhistorikus nie in die eerste plek ingestel moet wees op ʼn literêre werk om sy eie belangrikheid nie. Talle literatuurgeskiedenisse op die konvensionele patroon is niks anders nie as ʼn beskouing van oeuvres, met daarbinne ʼn beskouing van romans, dramas of digbundels wat vir die literatuurskrywer die belangrikste of interessantste is. Die meeste literatuurgeskiedenisse is "a discontinuous series of essays on individual authors" of chronologiese "impressions and judgements on specific works" (Wellek & Warren, 1963: 252), ʼn willekeurige versameling, en min of meer sg. volledige oorsigte van alle uitsprake oor alle minder of meer belangrike werke wat in ʼn bepaalde taal geskryf is, van voor tot agter.
Enkelwerke kan egter wel geskiedenis maak, al geld dit vir min enkelwerke. Die geskiedenis wat ʼn enkelwerk maak, kan op twee maniere plaasvind. Eerstens kan die enkelwerk geskiedenis maak deur sy verhouding tot ánder werke. Hier gaan dit duidelik om die literatuurhistoriese DISKOERS. Celliers se "Die vlakte" het geskiedenis gemaak, egter nie op eie houtjie nie (geen enkele literêre werk maak ooit op eie houtjie geskiedenis nie), maar omdat dit ʼn pendant gevind het in Van Wyk Louw se "Aan die skoonheid". Leipoldt se "Oom Gert vertel" het geskiedenis gemaak omdat dit later ʼn pendant gevind het in Opperman se "Gebed om die gebeente". Tweedens kan die enkelwerk geskiedenis maak deurdat dit bly voortbestaan in die belangstellingsveld en waarderingsveld van verskillende opeenvolgende generasies, maar op grond van verskillende belangstellings en waarderings wat die werk in hom ingebou het. Geslag A sal gedig A dan om elemente a–c waardeer, geslag B sal gedig A om elemente b, d en x waardeer, ens. Literatuurgeskiedenis is in hierdie geval dus resepsiegeskiedenis. Alleen multivalente werke val so ʼn geskiedenis te beurt (vgl. RESEPSIETEORIE).
Al kan die enkelwerk dus literatuurhistories belangrik wees, is hy egter nie sui generis vir die literatuurhistorikus belangrik nie. Hy is alleen literatuurhistories belangrik as hy ʼn duidelike historiese verhouding met ander (vroeëre of latere) werke het of as hy ʼn relevante resepsiegeskiedenis het. Anders hoort hy tuis in die kroniek of literêre ensiklopedie.
Die genrestudie is onontkombaar vir die literatuurhistorikus. Die geskiedenis van ʼn bepaalde literatuur is dikwels ʼn genregeskiedenis of ʼn geskiedenis wat aan genres of ʼn GENRE gebind is. Dit is bv. ʼn literêre fenomeen dat die Afrikaanse literatuur eintlik as ʼn poësieliteratuur begin, en dit in ʼn groot mate bly tot en met die Veertigers. Die Dertigers is byna uitsluitlik ʼn digtergenerasie, terwyl die prosa weer in die Sestigerperiode dominant is ten spyte van die groot aantal digbundels uit dié periode, en die drama staan nog altyd agter by die poësie en prosa in Afrikaans. Daar moet literatuurhistoriese verklarings voor gevind word. Die literatuurhistorikus kan nie volstaan met konstateringe nie.
Dit is selfs vir die literatuurhistorikus verpligtend om uitsluitsel te gee oor die problematiese vraag na wat LITERATUUR is, omdat sekere TEKSTE in sekere periodes deur ʼn leserskollektief as literatuur aanvaar is, terwyl dit deur ʼn ander verwerp word as literatuur, of omgekeerd. Die literatuurhistorikus moet in ieder geval die grens- of probleemgevalle as sodanig kan hanteer, en dit kan hy alleen doen deur ʼn normatiewe besinning op die literatuur.
Hierby kom die hele kwessie van EVALUERING, waaraan geen leser ooit ontsnap nie, ook nie die literatuurhistorikus nie: hy moet uitwys én verklaar waarom ʼn bepaalde werk in een periode as goeie literatuur en in ʼn ander as swak literatuur beskou is; waarom sekere werke oor selfs baie lang periodes as goed waardeer word; of hoekom daar waardeskommelinge is, sodat ʼn werk in ʼn bepaalde tyd as goed/swak ervaar is, later as swak/goed respektiewelik met ʼn uitgebreide aantal variasies op hierdie patroon, bv. eers goed, dan swak, dan weer goed. Herontdekkings, invariabiliteit so goed as variabiliteit, hoort tot die literatuurgeskiedskrywing. Die literatuurgeskiedenis voltrek hom altyd in periodes, ook genoem fases, strominge, bewegings, rigtings van korter of langer duur, wat mekaar van tyd tot tyd afwissel, veroorsaak deur literêre werke self of die literatuurkritiek, maar ook deur literatuureksterne faktore. Naas die bg. ekwivalente terme word daar ook soms van ʼn literatuurgenerasie of -episode gepraat. Die mees aanvaarde term is periode.
Vanuit die gesigshoek van die literêre werk(e) self, kan ʼn periode beskryf word as ʼn tydvak waarin (om ʼn term van die Russiese formaliste te gebruik) sekere dominante eienskappe of kenmerke, sekere invariabeles, sekere KODES hulle uitwys (vgl. Tynjanov, 1971: 72).
As ʼn periode sekere dominante trekke en kodes vertoon, beteken dit dat die literatuur van daardie periode een of ander eenheidskarakter besit. "A period is ... a time section dominated by a system of literary norms, standards, and conventions, whose introduction, spread, diversification, integration, and disappearance can be traced ... Thus a period is not a type of class but a time section defined by a system of norms embedded in the historical process and irremovable from it ... An individual work of art is not an instance in a class, but a part which, together with all the other works, makes up the concept of the period. It thus itself modifies the concept of the whole" (Wellek & Warren, 1963: 265).
Die dominante trekke ("system of norms") word altyd afgelei uit ʼn aantal werke; dit is m.a.w. iets "which no work of art will ever realize in its entirety". In hierdie opsig het Ducrot & Todorov dus gelyk dat dit in die literatuurgeskiedenis nie gaan om die enkelwerk, sui generis, nie, maar om dié werke wat gesamentlik die literêre diskoers ("literary discourse") van die periode konstitueer. PERIODISERING is die aangewese beginpunt vir die literatuurhistorikus, nié ʼn enkelwerk of oeuvres nie.
Die werke van ʼn bepaalde literatuurhistoriese periode word eerstens in ʼn sinchroniese verhouding tot mekaar gesien. Elke literatuurgeskiedenis is ten tweede egter uiteraard ʼn diachroniese kyk op die literatuur, m.a.w. ʼn opspoor van die relasies tussen opeenvolgende periodes, d.w.s. aan mekaar voorafgaande en op mekaar volgende periodes. Literêre werke staan dus altyd in ʼn drievoudige verhouding: tot wat daaraan voorafgegaan het en tot wat daarmee saam ontstaan het of bestaan gekry het, tot wat daarop gevolg het. Vir die literêre werk wat vir die literatuurgeskiedskrywer kontemporêr is, wat in die tyd van sy literatuurgeskiedskrywing nog nuut is, geld vanselfsprekend alleen die eerste twee verhoudings. "The history of a period will consist in the tracing of the changes from one system to another ... Thus the survival of a preceding scheme of norms and the anticipations of a following scheme are inevitable ... we need to discern the decay of one convention and the rise of a new one" (Wellek & Warren, 1963: 265-266). "The idea of a purely synchronic system turned out to be an illusion. Every synchronic system has its past and its future as inseparable parts of the system" (Wellek, 1963: 50) (vgl. SISTEEM (LITERÊRE)).
Hierdie afwisseling van periodes is nooit diskontinu nie. ʼn Bepaalde periode het sy aanloop in ʼn vorige, en dit loop ook weer aan die ander kant uit op die daaropvolgende periode. Dieselfde geld vir die groter eenhede, die tydperke.
Die dominante eienskappe kan strek vanaf temas tot iets soos die klankorganisasie en dergelike. In ʼn sekere periode in die Engelse literatuur was die beeldspraak of ʼn tipe BEELDSPRAAK (IMAGISME) dominant, ʼn ander keer weer was dit die sillabisme van die VERS.
Ons het die literatuurgeskiedenis hierbo bekyk vanuit die gesigs-hoek van die literêre werk(e) self. Van die ander kant af gesien, vanuit die gesigshoek van die kritiek en die heersende teorieë van ʼn tyd, kan ons ʼn literêre periode beskryf as ʼn fase waarin bepaalde kritiese norme gegeld het (vgl. Vodička, 1964). Nuwe kritiese norme kan ʼn nuwe periode tot stand bring, veral as die kritiese norm by die skrywers sélf ontstaan (soos in die Afrikaanse literatuur by die Dertigers) (vgl. LITERATUURKRITIEK).
Meestal is daar ʼn korrelasie tussen die dominante trekke, soos gegee deur die literêre werke self, en die evalueringsnorme soos gegee deur die kritici en teoretici. As daar nie so ʼn korrelasie is nie, vra dit om literatuurhistoriese verduideliking. Dit kan wees dat die literêre werk(e) die heersende norme òf vooruit is òf daarby agterstaan. Gewoonlik is dit die werke wat die dominante trekke bring wat dan deur die kritici as norme uitgewys word, maar dit kan ook andersom.
ʼn Aspek wat ook tot die periodisering in die literatuurgeskiedenis behoort, is dat die literatuurhistorikus binne ʼn bepaalde periode ʼn hiërargie van werke moet opstel volgens die dominante trekke van die periode en die kritiese norme van daardie periode.
Uiteindelik moet ʼn literatuurgeskiedenis in die totale beeld wat hy gee ʼn hiërargie opstel, ʼn Rangsetzung soos Haberkamm (1974: 263) dit noem. "The hierarchy of works in a given age is decisive" (Wellek, 1963: 50). Wellek praat in hierdie verband van "a given age", maar net soos die dekade-indelings van die literatuurgeskiedenis, is die eeu-indelings literatuurhistories meestal ongemotiveer; ons moet "age" egter eerder verstaan as "tydperk" of fase.
Dit is ʼn baie moeilike taak om ʼn rangordening binne ʼn totale literatuurgeskiedenis op te stel, veral as dit ʼn ou en omvangryke literatuurkorpus is, maar die literatuurhistorikus se opdrag is nou eenmaal om soos volg te werk te gaan: eers die dominante trekke binne ʼn periode opspoor, dan die relasies met die voorafgaande én die daaropvolgende periode(s), wat vir ons die volgende grootheid gee, nl. die tydperk(e) (Wellek se "age"), en ten slotte die totale beeld. Hoedat periodes, as die kleinste literatuurhistoriese eenhede, die groter eenhede van die tydperk(e) konstitueer, en daaruit ten slotte die totale historiese beeld opgebou word, is nog nie deur die literatuurgeskiedskrywers goed toegepas of selfs goed beredeneer nie.
Uit die voorgaande volg dat ʼn literêre werk literatuurhistories relevant is as dit bydra tot die dominante eienskappe van ʼn periode, miskien een van die hoofbepalers is van die dominante trekke, en bygevolg duidelike relasies het met ander dominerende werke uit die periode. So ʼn werk sal vanselfsprekend verband hou met vorige en daaropvolgende periodes. Omdat, soos ons gesien het, ʼn periode nie ʼn geïsoleerde "episode" in ʼn literatuurgeskiedenis is nie, is dáárdie werke relevant wat iets uit ʼn voorafgaande periode kontinueer, wysig of vervang, en iets van ʼn volgende periode voorberei, voorspel of moontlik maak. Die verband met ʼn voorafgaande periode is nie altyd positief nie; dit kan ook ʼn afrekenende interaksie wees, "If we are to speak of the literary effect of a work, we cannot confine ourselves to the cases of direct, conscious or unconscious, influence, but must include those cases as well in which the new literary works can come to full esthetic fruition against the background of an older work from which they are reflected as its opposite" (kurs. van my) (Vodička, 1964: 80). ʼn Skrywer kan selfs met sy eie vroeëre self afreken, homself innoveer, afskeid neem, soos A. Roland Hoist in Shelley een afscheid. In die Afrikaanse literatuurgeskiedenis is dit merkwaardig dat ons eie, jong Afrikaanse literatuur na 1900 nie net progressief gerig was nie maar ook retrogressief. Die Driemanskappoësie is aanvanklik ʼn poësie oor gister, oor weleer, ʼn poësie oor die oom Gert wat vroeër dit en dat gedoen het in die vroeëre Boereparadys (Totius, Trekkerswee), ʼn poësie oor die oë wat nat was "met die trane van gister" (Leipoldt, "In die konsentrasiekamp"). As mens dan Leipoldt se latere "Droom en doen" lees, sien mens hoe hy afskeid neem van hierdie gister. In die poësie van die Dertigers het ons weer ʼn duidelike toekomsgerigtheid in hulle programgedigte: die digter "sal ons Wete stukkend skeur", sê Van Wyk Louw in "In waansin het ek gevra". Sy "Opdrag" voorin Die halwe kring is ʼn afskeidsgedig, en "Vooraf gespeel" in Gestaltes en diere bid om die nuwe. Germanicus van Van Wyk Louw, en Opperman se "Gebed om die gebeente" is in hulle slot toekomsgerig. Die literêre tekste self verskaf dikwels die nodige literatuurhistoriese dokumentasie. Veral Breytenbach reageer op of reken af met vroeëre Afrikaanse gedigte, met name in Lewendood (1985). Literêr-historiese verhoudinge bestaan ook nie altyd net tussen direk opeenvolgende periodes nie maar reik oor tussenliggende periodes heen of loop deur verskillende periodes.
Trekkerswee van Totius is literatuurhistories belangrik omdat dit saam met Langenhoven se Eerste skoffies op die pad van Suid-Afrika en Opperman se Joernaal van Jorik ʼn vers-epiese ontwikkelingslyn in die Afrikaanse literatuur vertoon; ook omdat Dina van Trekkerswee en ander gegewens uit lg. in ʼn nuwe konteks ingebou word in Opperman se "Ballade van die Grysland". Tussen Totius en Opperman lê daar egter meer as een periode in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis en mens sou by hierdie gegewe van Dina uit Trekkerswee en "Ballade van die Grysland" ook nog sydelings die Verlore Seun-gegewe uit W.E.G. Louw se werk kon betrek.
Die literatuurhistoriese berus altyd op INTERTEKSTUALITEIT (én ekstratekstualiteit) van watter aard ook al, vanaf die klankstruktuur tot by die tematiek (vgl. MOTIEF). Die intertekstualiteit strek vanaf verbande onderling in ʼn skrywer se werk, met werk van ander skrywers uit dieselfde periode, uit ander periodes, uit ʼn ander taal selfs. Literatuurhistoriese verbande reik oor geografiese, etniese en taalgrense heen (vgl. NASIONALE LITERATUUR). Van Wyk Louw se "Die swart luiperd" hou verband met Goethe se Faust, sy Raka hou verband met die werk van Roy Campbell; ook met Browning se Caliban upon Setebos (D.J. Opperman se Digters van Dertig toon talle verbande tussen die werk van die Dertigers en werke in ander tale aan). Hierdie verbande is nie uitsluitlik en selfs nie in die eerste plek tematies van aard nie. Celliers se "Die vlakte" is literatuurhistories verbind met Perk se "Iris" (indirek) en Shelley se "The cloud" (direk), en dan veral in prosodiese opsig. Die verband tussen Celliers se "Die vlakte" en Van Wyk Louw se "Aan die Skoonheid" is eintlik ʼn perspektiwiese, dié tussen Leipoldt se "Oom Gert vertel" en Opperman se "Gebed om die gebeente" is hoofsaaklik ʼn ideologiese.
Soms is dit ʼn nie-omvangryke liriese gedig soos Elisabeth Eybers se "Röntgenfoto" of Opperman se "Kersliedjie" wat ʼn nuwe visie bring wat weer in verskeie latere gedigte van verskeie digters terugkeer.
Die literatuurhistorikus het die hulp en ondersteuning van verskeie ander literatuurdissiplines nodig. Om die sosiale konteks vas te stel waarin ʼn werk of werke ontspring, voortbestaan of taan, het hy die hulp nodig van die vandag hoogs gespesialiseerde LITERATUURSOSIOLOGIE. (Vgl. ook HISTORIES-SOSIOLOGIESE BENADERING.)
Die literatuursosiologie kan vir die literatuurhistorikus verklaar hoe sake soos die bemarkingsmoontlikhede of praktyke van ʼn periode, die media waardeur die literatuur aan die man gebring word of die literatuur van ʼn tyd beïnvloed het, morele, politieke, religieuse, ideologiese en algemeen kulturele sake die aard van die literatuur van ʼn bepaalde tyd bepaal het. Hierby moet die literatuurhistorikus dan altyd onthou dat dit nie net die ekstra-literêre konteks is wat die aard van die literêre werk bepaal nie; die omgekeerde vind ook plaas. ʼn Bepaalde periode is dikwels wat die literatuur sélf daarvan maak, en dit moet deur die literatuurhistorikus uitgewys word.
Meer m.b.t. die herkoms van ʼn werk of werke, het hy die hulp nodig van die INVLOEDSTUDIE, want, anders as wat Van Wyk Louw in "Ars poetica" (Tristia) beweer, maak die reeds gevormde literatuur weer ander literatuur. ʼn Literatuurgeskiedenis is onverbiddelik gebind aan die kousaliteitsverskynsel, wat "the anxiety of influence" (Bloom, 1973) insluit. Hier gaan dit weer eens soos in die literatuursosiologie om ʼn tweeledige verkeer: die invloed wat inwerk op ʼn werk, die invloed wat daarvan uitgaan op ander werke of op die konteks. Die invloedstudie sal die literatuurgeskiedenis dikwels oor taal- en nasionale grense heen voer.
Samehangend met die invloedstudie is die vergelykende literatuurkunde of KOMPARATISME as hulpdissipline, veral omdat die literatuur van ʼn bepaalde taal en tyd deur die Komparatisme bekyk word in sy verhouding tot ander literature en ander tye wat raakpunte met die onderhawige periode/werk(e) uitwys.
ʼn Voorbeeld in die Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing wat ʼn rekonstruksie van die ontstaankonteks van ʼn periode gee, is Opperman se Digters van Dertig wat, voor hy die tendensies van Dertig en die hooffigure behandel, eers die "Prikkels binne die algemene situasie" en die "Prikkels binne die letterkundige situasie" opspoor.
ʼn Vierde onmisbare bron vir die literatuurhistorikus is die literêre kritiek van ʼn bepaalde periode. Die literêre kritiek gee vir die literatuurhistorikus die poëtika, die evalueringskriteria en norme van ʼn bepaalde tyd; Jauss se "VERWAGTINGSHORISON" word met name uit die literêre kritiek van ʼn periode afgelees. Die kritiek is die sg. amptelike literatuurnormering van ʼn bepaalde tyd, omdat dit meestal kom van professionele, elitêre lesers: akademici, joernaliste, ontwikkelde lesers van allerlei slag, wie se oordele skriftelik gefikseer is.
By die kritiek hoort ook ander dokumentasie, soos BRIEWE, BIOGRAFIEë, polemieke, allerlei geskrewe kommentaar, die uitsprake en oordele van skrywers self. Ten slotte hoort ook vroeëre literatuurgeskiedenisse tot die bronne van ʼn literatuurgeskiedenis, omdat hulle sekere norme, kriteria, voor- of afkeure, rangordenings en groeperings uitwys. In die literatuurhistoriese proses word vroeëre literatuurgeskiedenisse self (literatuur)-geskiedenis.
ʼn Baie belangrike hulpdissipline vir die literatuurgeskiedskrywing is die Resepsie-estetika, wat hom in die besonder toelê op die leser(s) se ontvangs van die literêre werk(e) van en in ʼn bepaalde periode, op wat Vodička noem "the attitude of times" en wat hy onderskei van "subjective elements of valuation" (1964: 71). Die Resepsie-estetika probeer op wetenskaplike wyse die kritiek en teorieë van ʼn bepaalde periode bestudeer om die norme en kriteria en lesersreaksies te verwerk, en dit gee vir ons die waarderingsgeskiedenis van ʼn bepaalde werk of werke in die verloop van die tyd (vgl. RESEPSIETEORIE).
Uit dit alles blyk dat die literatuurgeskiedenis ʼn konsoliderende dissipline is, of behoort te wees en dat dit nouliks, soos dit tot op hede meestal die geval was, deur een man beoefen kan word, veral as ons daaraan dink dat ook die geskiedenis en ontwikkeling van die taal waarin ʼn werk geskryf is, ook die SEMIOTIEK (Wienold, 1985), van die uiterste belang vir die literatuurhistorikus is. Hoe ouer ʼn literatuur is, hoe belangriker word o.a. die klankgeskiedenis of -ontwikkeling van daardie taal vir die literatuurhistorikus, wat trouens ook die filoloog se hulp nodig het. As ʼn literatuur oud en omvangryk is, soos die Engelse, Nederlandse, Duitse en Franse, word dit onmoontlik vir een persoon om, bloot vanweë hierdie kwantitatiewe faktor, daardie literatuur historiografies te beheers. Daarom dat daar vandag al meer die oortuiging uitgespreek word dat literatuurhistorici hulle eerder moet toespits op deelgeskiedenisse van die literatuur, bv. dié van ʼn periode, of op ʼn tendens, gesien in sy verhouding tot die strominge (direk) voor en na hom (vgl. Van Luxemburg, Bal & Weststeijn, 1982), of enige ander aspek.
Òf dit gaan om ʼn enkelwerk, òf ʼn groep werke wat saam ʼn literatuurhistoriese subeenheid vorm (periode, tydperk), die literatuurhistorikus moet die ontstaan, voortbestaan en eventuele afloop daarvan ondersoek.
Hoewel ons die taak van die literatuurhistorikus tot hierdie drie punte kan reduseer, is dit ʼn byna onoorsigtelike veld wat deur dié sake gedek word. Alleen die voortbestaansgeskiedenis van ʼn werk berus op taamlik konkrete en kontroleerbare materiaal (die literêre kritiek, ander uitsprake oor die literatuur, allerlei dokumentasies wat skriftelike neerslag gevind het, selfs iets soos verkoopsyfers). In ʼn mate berus ook die afloop van ʼn literêre werk of van werke op konkrete gegewens, alhoewel dit soms moeilik is om te weet hoekom sekere literêre werke uit die smaak gaan val het. Die eerste saak egter, die ontstaansgeskiedenis van ʼn literêre werk of van werke, vereis ʼn baie groot ensiklopediese en literatuureksterne kennis en ʼn kennis van literatuurkundige hulpdissiplines, indien die literatuurhistorikus nie in spekulasie wil verval nie.
Sommige teoretici beweer dat dit nie die taak van die literatuurhistorikus is om hom met die ontstaan van die literêre werk(e) of periode te bemoei nie. "The object of literary history is not the genesis of works", aldus Ducrot & Todorov (1981: 144) in die Encyclopedic Dictionary of the Sciences of Language. Ander, soos Tynjanov en Vodička, meen dat dit wel ʼn taak is wat tot die literatuurgeskiedskrywing behoort. As ons onder ontstaan van die literêre werk(e) ʼn sg. rekonstruksie verstaan van wat in die gees (denke, emosie, wil) van die skrywer omgegaan het terwyl hy die werk geskryf het of wat sy persoonlike lewensomstandighede in daardie tyd was, is dit ʼn vorm van literêre psigologisme of BIOGRAFISME wat tereg nie tot die literatuurgeskiedskrywing behoort nie. As dit egter gaan om die sosiologiese en algemeen kulturele situasie waarin skrywers hulle bevind het in die ontstaantyd van sekere werke, is dit wel ter sake, omdat dit dan gaan om die ontstaanskonteks van die werk, wat wel agterhaalbaar is uit allerlei literêre, sosiologiese, historiese en ander bronne. Dit is belangrik vir die literatuurhistorikus om te weet wat die literêre norme van die tyd was waaruit die werk voortgekom het, wat verder die sosiologiese, ekonomiese, historiese, ideologiese (politieke, morele, religieuse) en algemeen kulturele omstandighede was in die tyd van die eerste ontvangs van ʼn werk, wat die "verwagtingshorison" van die leserskollektief of die kommunikatiewe situasie in daardie tyd was, kortom, wat die ontstaankonteks was, wat deur ʼn menigvuldigheid faktore bepaal word.
Naas die vasstelling van die ontstaansgeskiedenis of-situasie van literêre werke, is die literatuurgeskiedenis vervolgens gemoeid met die voortbestaansgeskiedenis daarvan en hulle verdwyning van die toneel. Waarom bly sekere werke voortbestaan en ander nie? Hoe verskil die waardering en interpretasie van tyd tot tyd van dié werke wat voortbestaan, en om watter redes? Wat die enkele werk betref, moet ons uitgaan van Jan Mukařovský (1964) se onderskeiding tussen die ARTEFAK EN ESTETIESE OBJEK. Die artefak is die onveranderlike materiële gegewenheid van die literêre teks, ʼn standhoudende gegewe, wat ʼn menigvuldigheid sake insluit, soos taalsake: KLANK, RITME, betekenis, SINTAKSIS; konseptuele sake: TYD, RUIMTE, persoon (KARAKTER), gebeure; PERSPEKTIEF; komposisionele aspekte – kortom, die ganse struktuur. Aan die ander kant is daar die estetiese objek, wat die KONKRETISERINGS of resepsies van daardie artefak is. Terwyl daar altyd net een artefak is, nl. werk X, is daar van X talle en talle estetiese objekte, soveel estetiese objekte as wat daar leserkonkretiserings is. Daarby moet ons ook uitgaan van Ingarden se opvatting dat die literêre werk "spots of indeterminacy" het, wat Iser ná hom die sg. oop plekke van die teks genoem het, wat dit moontlik maak dat tien lesers tien verskillende konkretiserings (Ingarden se term) kan gee (Ingarden, 1973, veral die hoofstuk "The 'life' of a literary work"). (Vgl. LESERROL en LESERTIPES.)
Daar is een artefak "Oom Gert vertel", maar daar is talle konkretiserings van hierdie gedig in sy tyd van publikasie en daarna, wat ons kan noem die estetiese objek. "Oom Gert vertel" (i) bv. soos E.C. Pienaar dit waardeer het, dan kom die estetiese objek "Oom Gert vertel" (ii) bv. soos Van Wyk Louw die gedig in 1940 gelees het. Dan "Oom Gert vertel" (iii) soos H. van der Merwe Scholtz dit ʼn twintigtal jare later gelees het. Sommige konkretiserings kan, veral omdat die kulturele konteks en kommunikatiewe situasie van ʼn sekere lesersgenerasie hulle oordeel en norme beïnvloed, foutief wees, of ontoereikend, nie adekwaat nie. Die literatuurhistorikus moet dit uitwys.
Daar kan nie iets in die estetiese objek gerealiseer of gekonkretiseer word wat nie in die artefak gegee is nie. Dit wil nie sê dat daar nie foutiewe "lesings" voorkom nie, maar die literatuurhistorikus moet kan onderskei tussen aanneemlike en onaanneemlike konkretiserings, en dit lê sekerlik op die weg van die literatuurhistorikus om sulke gevalle uit te wys. Van die aanneemlike konkretiserings is daar altyd weer ʼn menigvuldigheid, elkeen met sy deeltjie insig, almal saam gedeeltelike insig, omdat ons dit veral van groot multivalente literêre werke sedert Homeros weet dat hulle onuitputlik is. Die literatuurhistorikus moet die mosaïek van konkretiserings aantoon.
Waarop dit dus uiteindelik neerkom, is dit: daar kan nie ʼn estetiese konkretisering van ʼn teks wees as dit nie in die artefak gegee is nie. Al die gangbare patente konkretiserings van bv. die Ilas tot vandag toe is latent gegee in die Ilas.
Die verskillende konkretiserings van ʼn literêre werk in verskillende periodes is sy geskiedenis, wat verband hou met die verskillende evalueringskriteria van die verskillende periodes, wat op hulle beurt weer verband hou met ander literêre werke en met allerlei literatuureksterne faktore.
Hierbo is daarop gewys dat die literêre werke wat ʼn literatuurhistoriese periode konstitueer, sinchronies gesien moet word; daarby is daar egter op gewys dat die literatuurgeskiedenis wesenlik diachronie is. Tog is daar, afgesien van die sinchroniese beskouing van die literatuur van ʼn bepaalde periode, nog ʼn ander literatuurhistoriese sinchronie: die dominante werke van ʼn bepaalde literatuur vorm altyd ʼn simultane geheel waarbinne daar bowendien ʼn hiërargiese verhouding tussen die werke bestaan. Op ʼn bepaalde tydstip van ʼn literatuurhistoriese ondersoek is alle werke wat literatuurgeskiedenis gemaak het, wat tot die dominante korpus behoort, in ʼn simultane, sinchroniese patroon voor die ondersoeker aanwesig. Op hierdie manier is literatuurgeskiedskrywing paradoksaal tegelyk sinchronies en diachronies. Tereg praat Haberkamm van die "Geschichtlichkeit der Literatur, die weder Zeitlosigkeit noch Historizität ist ..." Daar is ʼn "Gleichzeitigkeit des Ungleichzeitigen" (Haberkamm, 1974: 261 en 264).
Dit is literatuurhistories boeiend dat ʼn werk wat in ʼn bepaalde tyd ontstaan het, kontemporêr kan wees met werke wat veel later ontstaan het, selfs met dié werke wat in die tyd van die literatuurhistorikus se geskiedskrywing ontstaan het.
Die historiese sintuig wat Eliot by die skrywer soek, moet ook vir die literatuurhistorikus geld: "The historical sense involves a perception, not only of the pastness of the past, but of its presence; the historical sense compels a man to write not merely with his own generation in his bones, but with a feeling that the whole of the literature of Europe from Homer and within it the whole of the literature of his own country has a simultaneous existence and composes a simultaneous order ... What happens when a new work of art is created is something that happens simultaneously to all the works of art which preceded it. The existing monuments form an ideal order among themselves, which is modified by the introduction of the new (the really new) work of art among them ... and so the relations, proportions, values of each work of art toward the whole are readjusted ... the past should be altered by the present as much as the present is directed by the past" (Eliot, 1958b: 14–15).
Hoewel die literatuur van ʼn taal of land ʼn veranderlike korpus is, skep die terme literatuurgeskiedenis en literêre evolusie sekere probleme. Literêre evolusie kan ʼn misleidende literatuurhistoriese term wees. Tynjanov (1971) se term mutasie is beter, want die verandering(e) in ʼn literatuur is nie altyd progressief nie. Daar kan ook devolusie wees. Sekere veranderinge is ook nie vernuwend nie maar bloot modifikasies (Wellek, 1963) van die reeds bestaande. Vergelyk ook Ducrot & Todorov (1981: 147) wat ʼn uiteensetting gee van die hoofsoorte variabiliteit (variability) wat deur literatuurhistorici gesien word (vgl. VERANDERING (LITERêRE)).
In "How to read" het Ezra Pound daarop gewys dat alle mutasies nie noodwendig evolusie hoef te beteken nie. Evolusionêr is die eerste twee tipes wat hy onderskei: "(a) The inventors, discoverers of a particular process or of more than one mode and process... (b) The masters ... inventors who, apart from their own inventions, are able to assimilate and co-ordinate a large number of preceding inventions... (c) The diluters, those who follow either the inventors or the 'great writers', and who produce something of lower intensity ... in the wake of the valid" (Pound, 1954: 23). Hierdie derde groep, volgens Pound die grootste groep, is beslis nie evolusionêr nie. Dan is daar ook nog volgens Pound dié groep "who can hardly be said to have originated a form, but who have nevertheless brought some mode to a very high development" (Pound, 1954: 23). So ʼn groep sou ons ook evolusionêr kon noem, maar beslis nie die laaste groep wat Pound onderskei nie: "And there is a supplementary or sixth class of writers, the starters of crazes ... whose wave fashion flows over writing of a few centuries or a few decades, and then subsides, leaving things as they were" (Pound, 1954: 23).
Die artefak, die komplekse materiële gegewenheid van die literêre werk, die teks, is onveranderlik, tensy dit doelbewus verander word deur die outeur of deur die adaptasie van een of ander persoon wat hom met die teks bemoei, of, as dit ʼn mondelinge literêre werk is, wat in die mondelinge oordrag verander. Die estetiese objek is egter veranderlik omdat geen twee lesers se konkretiserings van ʼn gedig, roman of drama, sin- of diachronies, ooit dieselfde is nie. Die estetiese objek kan dus ʼn (resepsie) geskiedenis hê, nie die artefak nie, solank lg. ongewysig bly.
Ten eerste moet die literatuurgeskiedskrywer daarop let dat die onveranderlike artefak met verloop van tyd op grond van veranderlike menslike omstandighede, en van die menslike geskiedenis (nie die geskiedenis van die artefak nie) verskillend gelees word. Die literêre teks is uniek, eenmalig, dit het oneness, maar die konkretisering daarvan is meervoudig, oneindig. Die literatuurhistorikus moet vasstel hoe die teks se konteks of sy sg.
kommunikasiesituasie verander, en hierdie kommunikatiewe situasie of konteks is weer multipleks, nie net sosiologies, ideologies of affektief nie, maar ook linguisties. Die klankverhoudinge in ʼn gedig bv. bly ongewysigd en onveranderd (die RYM wys dit onteenseglik uit), maar die klank van die taal self waarin die gedig geskryf staan verander (vgl. veral die ou tale), ook betekenisse en baie ander elemente om die gedig heen (of om enige ander literêre teks heen), en dit beïnvloed die resepsie of konkretisering van die teks. Die literêre probleem is dat die literêre werk nie saam met die kommunikatiewe situasie verander nie – en tog gehandhaaf kan bly.
Watter verandering ook al rondom die literêre teks intree, sommige elemente van die teks bly altyd onaangetas deur die verandering, bv. die vers- of strofebou van ʼn gedig, die segmentering of fasering van ʼn roman, die bedrywe van ʼn drama, die opbou van ʼn SONNET of ODE of van enige gedig. Geen geskiedenis het hierop vatplek nie. Daar is weliswaar ʼn geskiedenis van byvoorbeeld tektoniese verskynsels (soos die opkoms of verdwyning van die klassieke tragedie of Italiaanse sonnet), maar die tektoniek self van ʼn gedig, ʼn drama, ʼn roman, is volslae ahistories in sy bestaan. Alleen sy ontstaan en invloed kan historiese aspekte hê.
ʼn Literêre werk is egter ook op ʼn ander manier onveranderlik. ʼn Werk of werke het ʼn resepsiegeskiedenis, weliswaar, maar dit is ook op ʼn bepaalde tydstip vir ʼn bepaalde leser ahistories dáár, hier en nou, as "teenswoordige" of "kontemporêre" werk: "... the literary student, ... has direct access to his object: the work of art. It is open to inspection whether it was written yesterday or three thousand years ago", terwyl historiese gebeurtenisse "have passed irrevocably" (Wellek, 1963: 15). Die literatuurhistoriese ideaal om jou in die reseptiewe omstandighede van lank gelede te verplaas en in te leef, is slegs in ʼn baie beperkte mate bereikbaar (vgl. HERMENEUTIEK).
Binne die dinamiese gang van die literatuurgeskiedenis is daar, hoe paradoksaal dit ook klink, sekere konstantes, sekere invariante, werke wat eeue lank, selfs van hulle ontstaan af tot aan die huidige dag toe hulleself bly handhaaf het. Die literatuurgeskiedskrywer moet daarom nie net ingestel wees op die nuwe en progressiewe of sg. evolusie nie maar ook op die blywende. Hy moet vasstel hoekom sekere werke in hierdie metamorfose ondergaan en ander nie, hoekom werke wat bly voortbestaan so multivalent is dat hulle telkens ʼn ander "gedaante" vertoon. Wat lg. betref, moet die literatuurhistorikus verder vasstel wat presies in die oorlewingsvatbare werk konstant is en wat nie. Wát in die werk leef voort? Want dit is meestal nie al die elemente wat oorlewingskragtig is nie.
Dit is selfs moontlik dat die literêre werk sy tyd en sy kommunikatiewe situasie vooruit kan wees, in Pope se formulering: "What's now apocrypha, my wit,/In time to come may pass for holy writ." Dit is egter nie die belangrikste literatuurhistoriese probleem nie, want so iets kan maklik aangetoon word deur die literatuurhistorikus, wat immers vanuit ʼn agternaperspektief beskryf. Die moeilikste probleem lê by die literatuurhistoriese invariante, wat dalk ook ʼn verklaring is vir die skrywer se vooruit wees, soms, t.o.v. die "in time to come". As Homeros "sy tyd vooruit" was, van die een kant af gesien, kan ons van die teenoorgestelde gesigspunt sê: ons is vandag terug by of steeds by Homeros, wat Eliot se standpunt bevestig dat die mens fundamenteel nie veel verander het met verloop van tyd nie.
Die opvatting van die sg. outomatisering en deoutomatisering m.b.t. literêre werke verklaar alleen sekere literatuurhistoriese verskynsels. Sekere werke ly blykbaar nooit aan outomatisering nie, raak nooit geoutomatiseer nie, of alleen gedeeltelik. Dit geld vir alle groot of "klassieke" werke soos die Ilas en Odusseia, die groot tragedies van die Grieke, Oidipus of Elektra, Karel ende Elegast, Van den Vos Reinaerde, die Divina commedia, Don Quijote, Hamlet, Faust, en talle klein gedigte. Hierdie werke is oorlewingsvatbaar, hulle bly in die menslike belangstellingsveld voortleef, selfs eeue lank, selfs in die vertaalde vorm. Hulle bly altyd "nuut", oor alle kultuur-, historiese, taal- en ander grense heen.
Die teorie van die outo- en deoutomatisering verklaar ook nie altyd die opeenvolging van generasies nie. ʼn Generasie soos die Dertigers in die Afrikaanse literatuur bly tot vandag voortbestaan en behou sy waarde as dié hoogtepunt in die Afrikaanse literatuur t.s.v. ander generasies wat daarna gevolg het.
Die hele kwessie van konstantes of invariante is kompleks en minstens tweeledig. Aan die een kant kan dit berus op ʼn ekstra-literêre en ekstra-tekstuele gegewe, nl. by die mens self as leser. "Has human feeling altered much from Aeschylus to ourselves? I maintain the contrary" (Eliot, 1958a: 46). Daar sit ʼn sekere geldigheid in Tillyard se teorie in Poetry Direct and Oblique dat die literêre werke wat in die menslike belangstellingsveld bly, die draers is van die mens se blywende waardes en waarhede ("the great commonplaces"). ʼn Ander verklaring lê miskien daarin dat die blywende literêre werk, volgens Ingarden (1973) en Eliot (1958a), ʼn "stratified audience" aanspreek, ʼn groot leserverskeidenheid, selfs deur die eeue heen. Die stratifikasie is egter in die werk sélf ingebou en kan op al sy elemente betrekking hê: op sy kognitiewe, konatiewe en affektiewe of estetiese waardes, op sy taal (simboliek, klank, ritme, ens.), op sy konsepte van tyd, ruimte, gestalte (die sg. "karakters"), sy visie, sy opbou of komposisie. ʼn Oorlewende werk sal dan waarderingsmoontlikhede van ʼn groot verskeidenheid kan huisves, en hulle bly konstant, invariabel binne ʼn veranderde situasie.
Dit is daarteenoor juis die werk wat hom aan die veranderlike norm heg, wat saam met hierdie veranderlike norm verbygaan.
ʼn Werk se oorlewingsmoontlikhede en "ahistorisiteit" hang af van die rykdom valensies wat hy in homself huisves; dit bepaal sy interne geskiedenis. Hierdie oorlewingsmoontlikhede kom dus eintlik neer op hernuwingsmoontlikhede binne die werk sélf. Wat die eksterne geskiedenis betref: die geskiedenis van die veranderende kommunikasiesituasie, van die literêre konteks of resipiërende kollektief is maar gedeeltelik verantwoordelik vir die reseptiewe skommelinge waaraan ʼn werk onderhewig is. ʼn Literêre werk se oorlewingskrag binne ʼn historiese proses lê in ʼn matige mate in die presies teenoorgestelde as die historiesveranderlike, nl. in die bg. konstantes. Dit kom o.a. ook daarop neer dat die temas van literêre werke uit verskillende tye verskil maar op dieselfde waardes betrekking het (iets vir die komparatisme). Want dit is ʼn ander merkwaardige waarneming wat die literatuurgeskiedenis kan maak, nl. dat werke uit gans verskillende tye simultaan gewaardeer word, en nie net uit verskillende tye nie, maar ook uit verskillende tale – dit is daarom ʼn heel bepaalde opdrag vir ʼn literatuurgeskiedenis om vas te stel wát word op ʼn bepaalde tyd uit ánder tale en tye bv. vertaal of gelees, en waarom (dink aan die vertalings uit Grieks en Latyn in Afrikaans). Ten slotte: ʼn indrukwekkende deel van die literêre werk onttrek hom aan die historiese, bv. alle komposisionele elemente, elemente van design, pattern, Gefüge, tektoniek.
Geskiedenis van ʼn literatuur raak die verhouding van werke (ook net sekere dominante werke) binne ʼn bepaalde taal tot mekaar en die verloop binne daardie literatuur, maar dan nie net kognitief, affektief en konatief nie; dit raak ook die ontwikkeling van vorme, van die versbou bv., van die taalgebruik, ens. Die vasstel van veral lg. ontwikkelinge is moeilik, maar vir die literatuurhistorikus onvermydelik. Dit word gewoonlik egter skromelik verwaarloos in die literatuurgeskiedskrywing.
Hierbo is die gangbare literatuurhistoriese uitgangspunt steeds veronderstel, nl. dat daar iets soos ʼn literatuur, of ʼn groot aantal onderskeie literature, sg. *nasionale literature is.
Waarin lê die sg. eenheid van ʼn literatuur? In die taal, in temas, idees, ens.? Die taaleenheid, hoe bindend dit ook al is, laat mens dikwels in die steek. Breytenbach se poësie bv. het meer "buitelandse" verbande as "binnelandse". So was dit al in Afrikaans met die Driemanskap en Marais. ʼn Tematiese eenheid is die oppervlakkigste en mins insiggewende en mins sintetiese wat daar is. ʼn Literatuurgeskiedenis moet noodwendig ʼn literatuur as ʼn éénheid sien, maar hy moet hierdie eenheid dan oortuigend beredeneer. Dit is die basis van ʼn literatuurgeskiedenis – maar die beredenering hiervan word meestal verwaarloos. Tot ons verbasing kan ons vasstel dat sosio-kulturele faktore literêr-histories meer bindend is as die taal (vgl. die swart skrywers se werk in Engels in Suid-Afrika; die feit dat hulle in Engels skryf, maak hulle werk nie s.m. "Engelse" literatuur nie).
Binne ʼn literatuur word die oeuvre van ʼn skrywer weer tradisioneel deur die literatuurgeskiedskrywer as ʼn subeenheid gesien en behandel, sonder dat hierdie eenheid gewoonlik beredeneer word.
Die groot vraag bly ten slotte: Waartoe dien ʼn literatuurgeskiedenis? Hoe help dit die leser om die individuele werk te verstaan en te waardeer? Met ander woorde, hoe kan ʼn ekstensiewe metode of werkwyse aan ʼn intensiewe werkwyse gekoppel word in ʼn literatuurgeskiedenis?
Elke leser lees weliswaar vanuit ʼn historiese gevormdheid, en hy lees werke wat noodwendig uit ʼn historiese situasie ontstaan het. Maar om histories gerig en ingestel te lees, is iets anders, iets bepaald vir die literatuurhistoriese ingesteldheid. Die leser kan vanuit ʼn ahistoriese instelling lees en ʼn werk as individuele teks lees. Die meeste lesers lees waarskynlik so wanneer hulle uit vrye wil lees, maar hulle lees vind nie neerslag in ʼn dokument nie. Dit is miskien ook die egste soort leser wat so lees. Dit is ʼn moeilik aanvaarbare voorstelling dat ʼn leser vir sy vreugde ʼn bundel gedigte of roman opneem om dit as deel van ʼn historiese proses te lees, of wie se lees bewustelik literêr-historiese getuienis moet wees.
Uitvoerige bronne oor die aard en metodes van die literatuurgeskiedskrywing is Baur (1939), Schurtz & Wagner (1977) en (hoewel gespesialiseerd) Curtis (1948). Oor spesifieke probleme vir die literatuurhistorikus skryf Knuvelder (1963). Die geskiedenis van die literatuurgeskiedskrywing word oorsigtelik uiteengesit in Bomhoff (1968). Garvin (1964) en Bronzwaer et al. (1977) bevat verskillende belangrike artikels. Belangrike vernuwende insigte vind mens by Jauss (1974 en 1977) en Vodička (1964 en 1976) en vroeër reeds by Eliot (1958b).
Spesifiek oor periodisering skryf Teesing (1949 en 1977), en oor evolusie skryf Hankiss (1972), Kunne-Ibsch (1977) en Tynjanov (1967, 1971 en 1977). Lees ook Fowler (1971). Oor literêre sisteem skryf Viljoen (1986). Lees oor semiotiek en literatuurgeskiedskrywing Wienold (1985). Dan verder Emrich (1958), Erlich (1955/1956), Ducrot en Todorov (1981), Haberkamm (1974), Kayser (1961), Maatje (1970/1974), Matejka & Pomorska (1971), Striedter (1967/1972), Van Luxemburg et al. (1982), Weimann (1972) en Wellek & Warren (1949/1963). Belangrik is die tydskrif New literary history en Poetics 14(3/4) se Special issue: on writing histories of literature. (Vgl. PERIODISERING, SISTEEM (LITERÊRE), VERANDERING (LITERêRE) en HERMENEUTIEK.)
Bibliografie
Abrams, M.H. 1953. The Mirror and the Lamp. New York: Oxford University Press.
Baur, F. (red.). 1939. Inleiding: de literatuur, haar historiographie en methodes. In: Geschiedenis van die letterkunde der Nederlanden, I. 's-Hertogenbosch: Malmberg.
Bloom, H. 1973. The Anxiety of Influence: A Theory of Poetry. London: Oxford University Press.
Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). 1977. Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Basisboeken Ambo.
Curtis, E.R. 1948. Europäische Literatur und lateinisches Mittelalter. Bern: Francke.
Eliot, T.S. 1958a. A dialogue on dramatic poetry. In: Eliot, T.S. Selected Essays. London: Faber & Faber.
Eliot, T.S. 1958b. Tradition and the individual talent. In: Eliot, T.S. Selected Essays. London: Faber & Faber.
Emrich, B. 1958. Literatur und Geschichte. In: Merker, W. & Stammler, W. (Hrsg.). Reallexikon der deutschen Literaturgeschichte. Berlin: De Gruyter.
Erlich, V. 1955/1956. Russian Formalism: History-Doctrine. The Hague: Mouton.
Fowler, A. 1971. The life and death of literary forms. New Literary History, 2(2).
Frye, N. 1957. Anatomy of Criticism. Princeton: Princeton University Press.
Garvin, P.L. 1964. A Prague School Reader on Esthetics, Literary Structure and Style. Washington: Georgetown University Press.
Haberkamm, K. 1974. Literaturgeschichte. In: Krywalski, D. Handlexikon zur Literaturwissenschaft. München: Ehrenwirt.
Hankiss, E. 1972. The structure of literary evolution. Poetics, 5.
Ingarden, R. 1973. The Literary Work of Art: An Investigation on the Borderlines of Ontology, Logic and Theory of Literature (transl. G. Grabawicz). Evanston: Northwestern University Press.
Jauss, H.R. 1974. Literaturgeschichte als Provokation der Literaturwissenschaft. Frankfurt am Main: Suhrkamp.
Jauss, H.R. 1977. Geschiedenis en kunst. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Basisboeken Ambo.
Kayser, W. 1961. Literaturgeschichtschreibung. In: Beau, E.A. et al. Kleines literarisches Lexikon, 1. Bern: Francke.
Knuvelder, G. 1963. Problemen der literatuurgeschiedschrijving. 's-Hertogenbosch: Malmberg.
Kunne-Ibsch, E. 1977. Periodiseren: de historische ordening van literaire teksten. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Basisboeken Ambo.
Maatje, EC. 1970/1974. Literatuurwetenschap. Utrecht: Oosthoek.
Matejka, L. & Pomorska, K. 1971. Readings in Russian Poetics: Formalist and Structuralist Views. Cambridge: MIT Press.
Mukařovský, J. 1964. Standard language and poetic language. In: Garvin, P.L. (ed.). A Prague School Reader on Esthetics, Literary Structure and Style. Washington: Georgetown University Press.
Pound, E. 1954. Literary Essays on Ezra Pound: edited with an introduction by T.S. Eliot. London: Faber & Faber.
Schurtz, H. & Wagner, H. 1977. Literaturgeschichte. München: Beyerischer Schulbuch Verlag.
Striedter, J. 1967/1972. Texte der russischen Formalisten. München: Fink.
Teesing, H.P.H. 1949. Das Problem der Perioden in der Literaturgeschichte. Groningen: Wolters-Noordhof.
Teesing, H.P.H. 1977. Periodisierung. In: Merker, P. & Stammler, W.I. (Hrsg.). Reallexikon der deutsche Literaturgeschichte III. Berlin: De Gruyter.
Tillyard, E.M.W. 1948. Poetry Direct and Oblique. London: Chatto & Windus.
Tynjanov, J. 1967. Die literarischen Kunstmittel und die Evolution der Literatur. Frankfurt: Suhrkamp.
Tynjanov, J. 1971. On literary evolution. In: Matejka, L. & Pomorska, K. Readings in Russian Poetics: Formalist and Structuralist Views. Cambridge: MIT Press.
Tynjanov, J. 1977. Het literaire feit. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Basisboeken Ambo.
Van Luxemburg, I., Bal, M. & Weststeijn, W 1982. Inleiding in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.
Viljoen, H.M. 1986. Die Suid-Afrikaanse romansisteem anno 1981. Potchefstroom: PU vir CHO.
Vodička, F. 1964. The history of the echo of literary works. In: Garvin, P.L. (ed.). A Prague School Reader on Esthetics, Literary Structure and Style. Washington: Georgetown University Press.
Vodička, F. 1976. Die Struktur der literarischen Entwicklung. München: Fink.
Wehrli, M. 1951. Allgemeine Literaturwissenschaft. Bern: Francke.
Weimann, R. (Hrsg.). 1972. Tradition in der Literaturgeschichte. Berlin: Akademie.
Wellek, R. 1955. A History of Modern Criticism, I, II. New Haven: Yale University Press.
Wellek, R. 1963. Concepts of Criticism. London: Yale University Press.
Wellek, R. & Warren, A. 1949/1963. Theory of Literature. London: Harcourt, Brace & World.
Wienold, G. 1985. Types of language use: a notion relevant to the writing of literary history. Poetics, 14(3/4).
Wimsatt, W.K. & Brooks, C. 1959. Literary Criticism: A Short History. London: Routledge & Kegan Paul.
Raadpleeg ook:
Canary, R.H. & Kozicki, H. (eds). 1978. The Writing of History: Literary Form and Historical Understanding. Madison: University of Wisconsin Press.
Muller, H. 1987. A few poisoned arrows wouldn't be so bad: Few interjections on the connection between historical theory, hermeneutics and literary historiography. Poetics, 16.
Riemenschneider, D. (ed.). 1983. The History and Historiography of Commonwealth Literature. Tübingen: Gunter Marr.
Simpson, D. 1988. Literary criticism and the return to history. Critical Inquiry, 14(1).
Van Gorp, H. 1985. De utopie van een omvattende literatuurgeschiedschrijving. Spiegel der Letteren, 21(4).
White, H. 1986: Historical Pluralism. Critical Inquiry, 12.
T.T. Cloete