METAFISIESE DIGKUNS
Die metafisiese digkuns (metaphysical poetry) was ʼn hoofstroming binne die 17e-eeuse Britse religieuse en sekulêre digkuns. Die hooffigure van hierdie stroming was John Donne, Andrew Marveil, George Herbert en Henry Vaughan. Die term metafisiese digkuns karakteriseer egter nie die verskeidenheid praktyke van hierdie en ander digters (Richard Crashaw, Abraham Cowley en Thomas Traherne) volledig nie.
Die beskrywing "metafisies" is die eerste maal op ʼn neerhalende wyse t.o.v. John Donne deur John Dryden gebesig in Discourse of the Original and Progress of Satire (1692). Dit was dr. Johnson se latere gebruik van die term in sy Life of Cowley (1781) wat dit daadwerklik in die Engelse literatuurstudie ingang laat vind het.
Johnson het die term nie in die filosofie geanker nie (geeneen van hierdie digters was "filosofies" in die sin wat Milton of selfs Wordsworth dit was nie) maar eerder as stylfiguur gebruik, met spesiale klem op die belang van verskillende vorme van discordia concors. Hierdie insig is nog steeds sentraal in die meeste pogings om die metafisiese digkuns te karakteriseer.
Die sentrale stilistiese kenmerk is die sg. conceit, ʼn ingewikkelde uitgebreide METAFOOR wat aan die 17e-eeuse klem op "gevatheid" (wit) uitdrukking gee. Net soos "gevatheid" in die 17e-eeuse betekenis van die woord funksioneer deur verskuilde maar belangrike ooreenkomste onderliggend aan skynbaar verskillende en onverwante dinge te suggereer, het die conceit ʼn verrassende analogie tussen ongelyksoortige dinge of toestande teweeggebring. Dit was daarbenewens tipies dat ten minste een van die terme van die verwantskap nie tot die tradisioneel goedgekeurde "poëtiese materiaal" moes behoort nie.
So bv. het Donne, in een van sy beroemdste conceits, geliefdes met die bene van ʼn passer vergelyk ("A valediction: forbidding mourning"). Dis nie slegs so dat die vergelyking uitgebreid en op die eerste gesig vergesog is nie, maar, waar geliefdes gewone digterlike materiaal is, behoort die passer nie tot die konvensionele en tradisionele poëtiese beeldeskat nie.
Die metafisiese digkuns word gekenmerk deur ʼn bereidheid om weg te breek van gevestigde RENAISSANCE-konvensies op feitlik elke vlak, en om vry om te gaan met die aanvaarde norme van die digterlike taal, tradisioneel-bepaalde PROSODIESE skemas, gesanksioneerde onderwerpe en die stilistiese vlakke of registers wat voorheen as geskik beskou is vir verskillende soorte onderwerpe of GENRES. Wat miskien selfs meer opvallend is, is die indruk van ʼn gedramatiseerde stem wat gereeld in sowel die sekulêre as die religieuse metafisiese digkuns opduik. Die stem wat hier spreek, is nie die formele, konvensionele stem van die Renaissance-sonnetdigter nie, maar ʼn meer "gepersonaliseerde" stem, wat wel die toonaarde, indien nie die werklike diksie nie, van die gewone spraak behou. Hierdie tipiese kenmerke wat miskien akkuraat genoeg vir veralgemenings is, dien egter nie as ʼn vrugbare regulatiewe begripsomskrywing nie. Daar moet in gedagte gehou word dat die digters wat gewoonlik onder hierdie term gegroepeer word, nooit ʼn skool gevorm het in die sin van ʼn groep kunstenaars wat bewus saamgewerk het om ʼn gemeenskaplike doel te bereik nie. Bowendien sal belangrike verwantskapstrekke wat in die verskillende vorms van DISKOERS van die tydperk gemanifesteer is, verskuil bly solank die term net op die poësie van toepassing gemaak word.
Een manier om hierdie dilemma op te los, sou wees om die toepassing van die term uit te brei, sodat dit nie slegs na ʼn besondere groep skrywers verwys nie maar eerder na ʼn stel histories-spesifieke stilistiese, formele en tematiese norme wat nie alleen in die poësie nie, maar ook in die ander genres werksaam was. Op die wyse sou mens die sterk "metafisiese" trekke in sekere werke van Shakespeare kon raaksien, nie net in "The phoenix and the turtle" nie, maar ook in "(dramas soos Hamlet en Measure for Measure. "Metafisies" sou dan ʼn regulatiewe konsep kon wees wat formele en PERIODISERINGSIMPLIKASIES kombineer. Dit sou ʼn omvattende term word vir byna alles wat ons tans beskryf as Jakobynse drama en ook vir die sekulêre prosa van sir Thomas Brown en Robert Burton en die religieuse prosa van Donne en Lancelot Andrews.
ʼn Ander en miskien meer bevredigende manier om die beperkinge van die gewone gebruik van die term "metafisies" te oorbrug, sou wees om die term binne die raamwerk van ʼn wyer vergelykende benadering te plaas. ʼn Eerste stap sou dan wees om die raakpunte te herken tussen die Britse metafisiese geskrifte en die tydgenootlike en ietwat later werk in die Amerikaanse kolonies, bv. die prosa van Cotton Mather en die digkuns van Edward Taylor.
As ʼn mens hierdie vergelykende raamwerk sou uitbrei, kan jy die metafisiese digkuns as een van die drade binne die Europese BAROK beskou. Wat nou bekend is as die Barokpoëtiek van Marino, Quevedo en Huygens, om maar drie belangrike kontinentale voorbeelde uit te sonder, toon opvallende ooreenkomste met die metafisiese digkuns. In hierdie digters se werk is dieselfde neiging tot die uitvoerige metafoor, tot oortreding van gesanksioneerde prosodiese patrone, dieselfde stof en beeldspraak. (Vgl. CULTERANISMO, CONCEPTISMO, EUFUÏSME, PRÉCIOSITÉ, SECENTISMO, GONGORISME en MARINISME.)
Dit loon nie die moeite om ʼn term soos "metafisies", wat so gevestig geraak het, in die literatuurstudie oorboord te gooi nie. As ʼn mens egter die term uitbrei om ander genres as die poësie te betrek en die metafisiese geskrifte in die breër konteks van die Barok plaas, sou mens waarskynlik die begrip só kon heraktiveer sodat nuwe rigtings en velde vir navorsing in die 17e-eeuse literatuur in Engels toeganklik sou kon word.
Met die herstel van die koningskap in 1660 is die metafisiese norme geleidelik verdring deur die NEO-KLASSIEKE klem op duidelikheid en gepastheid (clarity and decorum). Die afkeer van die metafisiese digkuns (waaraan Dryden en Johnson uitdrukking gegee het) het dwarsdeur die 18e en 19e eeu bly voortbestaan. Die opkoms van MODERNISTIESE opvattinge oor die POËTIEK in die vroeë dekades van die 20e eeu het tot ʼn groot oplewing in die belangstelling in die metafisiese digkuns gelei. T.S. Eliot het veral ʼn groot invloed gehad op die herwaardering van die metafisiese digkuns. Hoewel die verklaarde affiniteite tussen die metafisiese en die moderne digkuns teenswoordig ietwat oorbeklemtoon lyk, lei ʼn mens tog uit die Engelstalige kritiek vanaf die dertiger- tot die vroeë sestigerjare af dat die metafisiese digkuns ʼn hoë KANONIEKE status in dié tydperk geniet het.
(Vgl. ook GEESTIGHEID.)
Bibliografie
Eliot, T.S. 1932. The metaphysical poets. In: Eliot, T.S. Selected Essays. London: Faber & Faber.
Miner, E. 1969. The Metaphysical Mode from Donne to Cowley. Princeton: Princeton University Press.
Tuve, R. 1947. Elizabethan and Metaphysical Imagery. Chicago: University of Chicago Press.
Warnke, F.J. 1972. Versions of Baroque: European Literature in the Seventeenth Century. New Haven: Yale University Press.
N.W. Visser