PIKARESKE ROMAN
Die pikareske roman of skelmroman (Sp.: novele picaresca) is 'n subgenre wat in die 16e eeu in Spanje ontstaan het. Lazarillo di Tormes y de sus fortunas y adversidades (1554) word as die eerste volwaardige pikareske roman beskou.
Die pikareske roman word so genoem n.a.v. die picaro wat die hooffiguur is: "... geen misdadiger, veeleer een marginale figuur, een outsider, een gelegenheidsdief die vaak evolueert tot een gewoontedief. Helemaal geen held in de heroïsch-galante betekenis van het woord, veeleer een antiheld, een averechts ridder" (Van Gorp, 1978: 15). Hierdie held leef nie in die hoofse wêreld van vroueaanbidding nie, maar aan die sluwe en slinkse kant van die maatskappy. Die pikaro voel nie tuis in die wêreld waarin hy leef nie — daarom is hy dikwels 'n weeskind — maar hy is van hierdie selfde wêreld afhanklik vir sy bestaan. Hy is dikwels (maar nie altyd nie) passief: die avonture waarin hy betrokke raak, word nie doelbewus nagejaag nie.
In sy bespreking van die "Schelmenroman" in Moderne encyclopedie der wereldliteratuur (1972: 553), beskou Van Gorp die pikareske roman as 'n dikwels komiese pseudo-OUTOBIOGRAFIE van die pikaro wat van een meester na die ander swerf en sy bestaan op 'n skelm wyse maak. Daarom kom die reismotief dikwels in die pikareske roman voor. Deur middel van die soort bestaan wat die pikaro voer, word die wanpraktyke van 'n bepaalde gemeenskap blootgelê en gesatiriseer (vgl. SATIRE). Al maak die pikaro sy bestaan op 'n skelm en soms misdadige wyse kan hy nouliks as 'n werklike skurk beskou word: "The line between crime and petty rascality is a hazy one, but somehow the picaro always manages to draw it. Carefree, amoral perhaps, he avoids actual crime and turns from one peccadillo to disappear down the dust of the road in search of another", aldus Holman in A Handbook to Literature (1981: 331).
Die pikareske roman het gewoonlik 'n ek-VERTELLER. Die gebeure word dus vanuit 'n beperkte PERSPEKTIEF vertel. Dit het ook tot gevolg dat die pikaro van avontuur na avontuur vertel. Die klem val dus op die gebeure. Omdat daar van die een avontuur na die ander vertel word, is die gebeure episodies van aard. Die klem op die avonture bring ook mee dat die pikareske roman 'n taamlike yl PLOT het. Omdat die avontuur sentraal staan, is die pikareske roman ook 'n avontuurverhaal, "strongly marked by realistic methods in its faithfulness to petty detail, its utter frankness of expression, and its drawing of incidents from low life" (Holman, 1981: 330).
Die liefdestema ontbreek meestal in die pikareske roman. Dit gaan eerder om sosiale protes, want die pikaro leef in 'n gemeenskap wat hom stief behandel.
Die pikaro toon sekere ooreenkomste met die deugniet, avonturier, parasiet en stom kneg van vroeëre ROMANS. 'n Mens tref dus voorlopers van die pikaro in vroeëre werke aan soos die Griekse seerowerverhale, die Middeleeuse EPOS soos Van den Vos Reinaerde (vgl. ook DIERE-EPOS) of die Roman de Renart, die FABLIAU en in Tyl Uilspieël. Laasgenoemde is 'n deugniet by uitnemendheid.
Na gelang die samestelling van die maatskappy verander het, het daar ook 'n verandering in die inhoudelike van die pikareske roman gekom. Daar het bv. 'n verandering ingetree in die verhouding tussen werkgewer en werknemer (die pikaro). Aanvanklik is die karakter van die pikaro as staties uitgebeeld; later vind 'n verdieping daarvan plaas. Dit kom veral voor wanneer die ek-verteller op die agtergrond tree en die pikaro direk beskryf word.
Bogenoemde variasies het ook in die begin van die 18e eeu in die Spaanse sowel as die Wes-Europese pikareske roman voorgekom. 'n Belangrike voorbeeld is Mateo Alemàn se roman La vida del picaro Guzmàn de Alfarache. Die pikaro het hier 'n skurk geword en maatskappykritiek tree sterk op die voorgrond. Dié konstruksie het 'n groot invloed uitgeoefen op die struktuur van latere pikareske romans. Enkele ander voorbeelde van pikareske romans is Guevara se El diablo cojuelo (1641) (Die kreupel duiwel), Der abentheuerliche Simplicissimus (1669) van Grimmelshausen, Scarron se Le romant comique (1651) en Defoe se Moll Flanders. Cervantes se Don Quijote besit ook pikareske trekke. Louis Paul Boon se roman De bende van Jan de Lichte is 'n moderne pikareske roman. In Afrikaans kan John Miles se Donderdag of Woensdag as 'n voorbeeld genoem word.
Bibliografie
Blackburn, A. 1979. The Myth of the Picaro. Chapel Hill: University of North Carolina Press.
Botha, W.M. 1989. Aspekte van die pikareske in enkele werke van Etienne Leroux. Acta Academica, 21(1).
Van Gorp, H. 1978. Inleiding tot de picareske verhaalkunst. Groningen: Wolters-Noordhoff.
Raadpleeg ook:
Bjornson, R. 1977. The Picaresque Hero in European Fiction. London : University of Wisconsin Press.
Du Plessis, J.C.M.D. 1985. Die nie-pikareske pikaro. D.Litt.-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.
Anna-Marie Bisschoff